GB: Pretoria wen Polisiestryd op Loftus

pretoria polisiePretoria Polisie (Blou Bulle) het weliswaar sy Goue Bekerwedstryd teen sy Port Elizabethse eweknie redelik ver gewen, maar was nooit juis seker van sy sege nie.

Die Baaise Bobbies was rustyd 17-10 voor in `n wedstryd wat deurentyd baie gelykop verloop het.

Selfs toe PE laat in die wedstryd `n speler aan `n geel kaart verloor het, het hy met `n drie teruggeslaan teenoor die twee wat die wenspan in dié tydjie gedruk het.

Die Pretorianers sal gewis aandag aan hul dissipline en dikwels halfhartige verdediging moet gee as hulle in die uitspeelrondes wil vorder.

As Ruan Allerston beter pale toe gekorrel het, kon die telling ook heelwat anders daar uitgesien het.

Dillon Laubscher, die losskakel van Pretoria, het nie net 15 punte met die skoen bygedra nie, sy taktiese skopwerk en netjiese vooruitplasing van die spelplatform was goud vir sy span werd.

Albei spanne het by tye lekker met die bal gehardloop, maar gesukkel om af te rond. Pretoria se aanvalle het beter gestruktureer gelyk.

Die bonuspuntsege plaas Pretoria nou veilig boaan Groep D.

Die punte –

Pretoria Polisie 40 (10) – Drieë: Theuns Kruger, Hendrik van der Nest, Phumudzo Tshiovhe, Tinus Hoffman, Ian van Deventer. Doelskoppe: Dillon Laubscher (3). Strafdoele: Laubscher (3).

PE Polisie 24 (17) – Drieë: Kyle Scott, Alwyn Jordaan, Matthew Moore. Doelskoppe: Ruan Allerston (2), Kevin Plaatjies. Strafdoel: Allerston.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.