GB: QBR reik boontoe ondanks strawwe groep

“Groep van die dood” of te nie, Quins-Bobbies-rugby (QBR) wil ʼn paar stappies verder vorder as wat sy voorganger, Pretoria Polisie, tot dusver in die reeks om die Goue Beker kon vermag.

Die klub het tot stand gekom toe die ou-ou Pretoriase klubs Polisie en Harlequins vroeër vanjaar saamgesmelt het. Eersgenoemde het die afgelope twee jaar die kwarteindronde van die reeks bereik.

Ben Eybers, die voorsitter van QBR, sê sy klub het reeds die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga gewen, waarin die GB-houer, Rustenburg Impala vyfde gekom het.

“Vyf van die ses spanne in die liga het ses uit hul tien wedstryde gewen, en dit is slegs bonuspunte wat QBR bo-aan die punteleer geplaas, en hom vir die Goue Bekerreeks in aanmerking laat kom het.”

Hy voorsien ʼn strawwe stryd in die groepronde van die internasionale reeks.

“Northam (Limpopo Blou Bulle) het ʼn stel voorspelers van meer as ʼn ton; Old Georgians is die beste in Zimbabwe; Raiders kry groot hulp van die Goue Leeus-rugbyunie en het met nog vier ligawedstryde oor reeds vir die reeks in aanmerking gekom.

“Enigiets kan gebeur,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Gert Wessels, die Blou Bulle se president, oorhandig die Carltonbeker aan die kaptein van QBR, Hendrik van der Nest. (Foto: GB Jordaan)

Eybers se QBR het vier of vyf spelers met GB-ervaring; en Nico Luus, die hoofafrigter het self al in dié reeks gespeel en afgerig. Die klub se rugbydirekteur, Gert Mulder, is ʼn ervare afrigter.

QBR durf die reeks sonder twee sy hul Carlton-staatmakers aan. Die kaptein en skrumskakel Hendrik van der Nescht het uitgetree. Die flank André Potgieter se skitterspel in die Carltonliga het hom ʼn kontrak in Engeland besorg.

Die voorsitter sê QBR het vanjaar elf spelers aan die buiteland afgestaan, en nie almal is terug vir die Goue Beker nie.

Op die koop toe is Emile Keyser (slot) en Jan-Hendrik Bosman (agsteman) Saterdag in ʼn vriendskaplike wedstryd beseer, en hulle is in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om vir die reeks reg te wees.

Gert Wessels, die Blou Bulle se president, oorhandig die Carltonbeker aan die kaptein van QBR, Hendrik van der Nest. (Foto: GB Jordaan)

Eybers sê QBR het ʼn groep van 30 spelers vir die GB-reeks geïdentifiseer, en sal later ook op sy o.21- en o.20-spelers staatmaak.

“Diepte kan lol. Die baie lang seisoen, en die feit dat die klub slegs oor semi-beroepspelers beskik, maak dit moeilik om veral vir die wegwedstryde ʼn span van volle sterkte te kies.”

Hy sê dit sal die eerste keer wees dat baie van QBR se spelers na die buiteland gaan wanneer hulle in Zimbabwe speel, dus het die klub geen idee wat om te verwag nie.

André Potgieter (middel) tussen Barend van Graan, die hoof- uitvoerende beampte van die Blou Bulle-maatskappy, en sy pa, Japie, self ʼn gerekende Carltonspeler op sy dag. (Foto: Paddy Barton)

“Tuiswedstryde maak gewis ʼn groot verskil, en ons sien uit na die kragmetings teen Vaal Reefs (16 September) en Raiders (30 September).

Andre Potgieter (middel) tussen Barend van Graan, die hoof- uitvoerende beampte van die Blou Bulle-maatskappy, en sy pa, Japie, self `n gerekende Carltonspeler op sy dag. (Foto: Paddy )

“Die sewe borgskappe wat ons bekom het, sal baie help om ons spelers af te rond.”

♦ QBR het die afgelope naweek sy twee top-spanne in vriendskaplike wedstryde teen Vereeniging en die Valke se amateurspan in die veld gestoot.

QBR Swart, sonder Van der Nescht en Potgieter, het sewe drieë ingeryg om Vereeniging met 49-7 te verslaan; en die amateurkombinasie het QBR Rooi met 74-5 oorweldig.

Eybers sê sowel QBR as Vereeniging het Saterdag loslootjies en die littelosmaker was vir albei broodnodig.

“QBR se agterlyn was puik en Jacques Erasmus is met ʼn driekuns beloon. Morné Hugo was dodelik met sy skopwerk en het al sewe drieë verdoel.”

Hy (Eybers) sê die amateurs se makro-agttal het QBR Rooi les laat opsê, en die Valkespan het die verloorspan se verdedigingslinie gereeld deurpriem.

“Dit wys die voordeel daarvan om die beste spelers uit verskillende klubs te kan kies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.