GB-reeks: vir 16 was wen lank laas só belangrik

Daar kom ʼn dag vir elke rugbyspan dat ʼn uitslag sy vooruitsig in ʼn liga maak of breek, en Saterdag is dáárdie dag vir al 16 klubs wat in die reeks om die Goue Beker in aksie is.

Op Vereeniging pak die tuisspan (Valke) die onoorwonne Sasol van Secunda (Pumas) in wat een van die felste kragmetings in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks kan wees.

Die besoeker het reeds verrassend klaargespeel met die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, maar Vereeniging, wat sover nog net een keer in aksie was, kom nie verniet uit ʼn staalwêreld nie.

Sowel Impala (Luiperds) as Welkom (Griffons) veg om oorlewing wanneer hulle op Rustenburg teen mekaar te staan kom, en die verwagting is dat die vonke in dié wedstryd kan spat.

Old Georgians van Harare (Zimbabwe) en Quins-Bobbies-rugby (QBR) van Pretoria se botsing in die Zimbabwiese hoofstad beloof nog ʼn bittereinder-botsing te wees.

QBR sal moet bewys dat hy beter as Raiders (Goue Leeus) by die vreemde omstandighede kan aanpas, want OG het sedert verlede jaar getoon dat hy moeilik tuis geklop word.

Northam (Limpopo Blou Bulle) is tot dusver een van die verrassingspakkies van die reeks, en sy vertoning weg van die huis af teen Raiders word fyn dopgehou. ʼn Sege kan sy plek in die kwarteindronde verseker – die eerste Limpopo-klub om dit reg te kry.

Raiders se onverwagse (en boonop groot) nederlaag in Harare het hom in ʼn hoek, en hy sal op sy tuisveld veg soos min om sy vurige ondersteuners tevrede te hou.

ʼn Bulstryd wag insgelyks in Oos-Londen waar die onoorwonne Swallows van Mdantsane (Grens) en Progress George (Suidwestelike Distrikte) mekaar voor die bors vat.

Progress kan slae die minste van die twee bekostig, maar hy sal al sy kragte moet inspan om die tuisspan in sy eie agterplaas te klop.

Vir Progress Uitenhage (Oostelike Provinsie) en Old Selbornians van Oos-Londen (Grens) is dit ʼn stryd om behoud wat op laasgenoemde se tuisveld wag.

Old Boys is in die onbenydenswaardige posisie dat hy die Grens se kampioen is, maar dat Swallows bo hom die kwarteindronde kan haal.

College Rovers (KwaZulu-Natal) sal Saterdag in Durban speel om sy teleurstellende vertoning in verlede jaar se reeks op die agtergrond te skuif, terwyl Roses United van Wellington (Boland) allermins slae kan bekostig as hy langer in die reeks wil saampraat.

Nóg Western Suburbs (Namibië), nóg Sishen (Griekwas) kon tot hiertoe vanjaar ʼn wedstryd in die reeks wen, en in Windhoek sal dit albei se mikpunt wees.

Afskoptye 15:00 tensy anders vermeld –

Groep A

Vereeniging teen Sasol, Phoenix-hoërskool, Vereeniging.

Impala teen Welkom, Impala-rugbyklub, Rustenburg (16:00).

Groep B

Old Georgians teen QBR, OGSC, Harare

Raiders teen Northam Rhinos, Bill Jardine-stadion, Johannesburg.

Groep C

Swallows teen Progress George, Buffalostad-stadion, Oos-Londen.

Old Selbornians teen Progress Uitenhage (MPM-park, Oos-Londen (14:00).

Groep D

Western Suburbs teen Sishen, Hage Geingob-stadion, Windhoek.

College Rovers teen Roses United, KP3, Kingspark, Durban (12:30).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.