GB: Rovers glo ‘kleintjies’ kan vanjaar verras

rovers welkomRovers van Welkom (Griffons) glo die “kleiner” spanne kan vanjaar verras kragtens die nuwe reëls wat in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker geld.

Sy eerste wedstryd Saterdag teen Worcester Villagers (Boland) op Bolandpark, Worcester, word regstreeks deur Supersport 1 en HD gebeeldsend (afskop 14:45).

Butch Nieuwenhuyzen, die klub se sekretaris, glo hoewel die reeks steeds straf sal wees, verbeter die verbod op spelers met provinsiale kontrakte, en die vereiste dat  spelers die grootste deel van die seisoen vir die bepaalde klub moes speel die kleiner klubs se kanse.

Hy sê Rovers is dankbaar om deel van die eerste reeks in die nuwe formaat te wees.

“Die gehalte en krag van die spanne in Rovers se groep kan nie onderskat word nie en verdien respek, maar die klub is vol vertroue dat hy goed kan vaar as hy na sy vermoë speel.

“Al ons tuiswedstryde is teen kusspanne en ons hoop die dunner lug en klipharde veld sal ons help om hulle te klop. Dis makliker gesê as gedaan, maar as Rovers in `n wegwedstryd kan verras, kan hy die kwarteindronde haal.

gouebekerplakaat“Die klub was nog altyd vir sy vasbyt- en kanniedoodbenadering bekend, en sal tot die bitter einde stry.”

Rovers speel tuis teen die Goue Beker-kampioen Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie) en College Rovers (KwaZulu-Natal), en weg teen Worcester en Old Selbornians (Grens).

Nieuwenhuyzen sê die klub beskik oor `n klompie opwindende nuwelinge wat Rovers se ondersteuners nie kan wag om teen die topklubs in aksie te sien nie. Daar is egter ook nog die ou strydrosse wat Gemeenskapsbeker-ervaring het en weet wat dit inhou om op dié vlak te speel.

Hy sê Rovers se plaaslike liga was vanjaar aansienlik taaier as in die verlede, en die span moes alles inspan om party van sy wedstryde te wen.

“Dit het Rovers se geloof in homself versterk en hom voorberei om tot die eindfluitjie voluit te speel.”

Nieuwenhuyzen sê dit tel teen die klub dat vyf weke tussen die ligaeindstryde en die begin van die reeks om die Goue Beker verloop het.

“Al die spelers staan in heeltydse beroepe en speel werklik bloot uit liefde vir die spel en die klub. Oortydwerkery voorkom dikwels dat almal saam kan oefen,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Dit was nie maklik om vriendskaplike wedstryde gereël te kry nie.

“Beserings het drie sleutelspelers geëis, maar ons is vol vertroue diegene wat hul vervang, sal hul skoene behoorlik vol staan.”

Nieuwenhuyzen sê Rovers aanvaar dat hy die buiteperd is, maar glo sy houding van aanhouer wen, die span se “broederskap” en die ingewortelde Rovers-kultuur sal sake vir die teenstanders bemoeilik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.