GB: ses spanne bespreek plek in die kwarteind

goue bekerSes spanne se plek in die kwarteindronde van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker is bespreek ná Saterdag se voorlaaste ronde in die groepfase.

In Groep A kan die verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), en College Rovers (KwaZulu-Natal) nie meer ingehaal word nie. Dieselfde geld vir Pretoria Polisie (Blou Bulle) en Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) in Groep D. In Groep B is Rustenburg Impala (Luiperds) en in Groep C Brakpan (Valke) seker van `n plek.

Durbell het Saterdag die uitdaging aanvaar en Villagers Worcester 74-23 verniel – `n punteverskil van 51 – om seker te maak hy is boaan die punteleer met die oog op uitspeelwedstryde tuis.

Sy uitdager om dié voorreg, College Rovers, het dalk Old Selbornians (Grens) ietwat onderskat en het sy vroeëre voorsprong ingeboet deurdat hy die Oos-Londense span net 34-31 kon troef.

Die Durbies hoef aanstaande week op sy tuisveld net gelykop met Rovers te speel om eerste in die groep te kom.

Groep D

PE Polisie se oorwinning van 24-19 op Kathu teen Sishen verseker dat hy een van die toptwee spanne in Groep D sal wees.

Pretoria se Bobbies is ná drie wedstryde onoorwonne boaan die punteleer, en tensy hy onverwags teen sy Oos-Londense eweknie vasval, is hy van `n kwarteinstryd tuis verseker.

Groep B

In Groep B het Northam Platinum Rhinos (Limpopo Blou Bulle) op Northam vir Evergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte) hard laat werk voor die besoekers naelskraap 36-35 kon wen.

Impala het op Rustenburg 62-39 met Wanderers van Windhoek (Namibië) afgereken.

Groep C

Old Georgians (Zimbabwe) het sy tweede sege in die reeks behaal deur Durban Collegians (KZN), een van die aanvanklike gunstelinge, 38-22 in Harare te klop.

Brakpan is steeds onoorwonne nadat hy Saterdag op Witrivier 38-12 met die tuisspan, die Pumas se verteenwoordiger, klaargespeel het.

♦ Patrick Hattingh (Northam) en Hanco Deale (Pirates) met 37 punte elk is die voorste puntemakers, en Tythan Adams (College Rovers) met vyf die voorste driedrukker dusver in die reeks.

Opgesomde punteleer –

Groep A

Durbell 15, College Rovers 15, Old Selbornians 6, Welkom Rovers 5, Worcester Villagers 1.

Groep B

Impala 15, Pirates 10, Evergreens 10, Wanderers Windhoek 8, Northam 3.

Groep C

Brakpan 14, Valsbaai 11, Old Georgians 8, Durban Collegians 7, Witrivier 1.

Groep D

Pretoria Polisie 15, PE Polisie 13, OL Polisie6, Sishen 6, Bloemfontein Polisie 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.