GB: ‘strawwer toernooi as verlede jaar wag’

Johnno van der Walt – strawwer reeks verwag. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Groep vir groep wag daar vanjaar ‘n strawwer Goue Bekerreeks as wat verlede jaar die geval was.

Dit is die beskouing van Johnno van der Walt, die hoofafrigter van Valsbaai (Westelike Provinsie), 2016 se naaswenner.

“ʼn Toernooi soos hierdie verskil wesenlik van die jaar in en jaar uit van ‘n provinsiale liga,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Dáár weet ‘n mens wat om elke week te verwag; waar ons in die reeks om die Goue Beker teen verskillende spanne speel – elkeen ‘n kampioen wat sy onderskeie liga gewen het.

“Dit sorg vir ‘n interessante reeks.”

Van der Walt se Valsbaai volg ‘n eenvoudige proses.

“Ons berei voor om elke wedstryd wat ons speel te wen. As ons hard oefen en ons bes doen, sal ‘n teenstander alles moet uithaal om ons op ‘n bepaalde dag te klop.”

Valsbaai speel teen Boland, Namibië en KwaZulu-Natal se kampioene, en hy beskou dit as ‘n baie taai groep.

“Dit sal ‘n pluimpie wees as ons die top twee in die groep kan haal om tot die uitkloprondes deur te dring.”

Van der Walt sê 15 van vanjaar se 30 Valsbaai-spelers het aan verlede jaar se reeks deelgeneem.

“Talle staatmakers is ná die gedenkwaardige 2016-seisoen vir die klub verlore, maar daar is nog ‘n paar heel strydvaardige manne oor wat slaggereed vir die nuwe uitdaging is.

“Die voordeel van jongelinge in die groep is dat ‘n hoë energievlak by oefeninge gehandhaaf word, en die spelers voluit gaan.”
Hy sê Valsbaai se krag lê in die klub, groep en span se diepte.

“Ons het minstens twee spelers in elke posisie, wat nie die span in die steek sal laat as op hul knoppie gedruk word nie. Dit sal namate die toernooi vorder lewensbelangrik blyk.”

Van der Walt sê Valsbaai beskik oor ‘n jong span met ‘n paar “ou koppe”.

“Daar is vaart, vaardigheid en die X-faktor is in oorvloed aanwesig.

“Valsbaai geniet dit om drieë te druk, en om bo-aan die groep te eindig, sal hy dit elke wedstryd nodig hê,” sê dié positiewe afrigter wat g’n onoorkomelike swarigheid raaksien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.