GB-teleurstelling skep nuwe internasionale stryd

Siya Alam van Valsbaai op die aanval teen Old Georgians, met Stefan Swanic byderhand om hom te ondersteun. (Foto: Verskaf)

Twee van die spanne wat vanjaar die SA Rugbyunie (Saru) se reeks om die Goue Beker (GB) misloop, het allermins in sak en as gaan sit, maar met ʼn eie internasionale kragmeting vorendag gekom.

Die Kaapse klub Valsbaai, die huidige GB-kampioen, wat nie genooi is om sy titel te verdedig nie, en die Zimbabwiese klub Old Georgians (OG), Harare, beplan om jaarliks hul eie reeks op tuis-en-weg-grondslag te beslis.

Valsbaai is in die Westelike Provinsie se Superliga A deur Durbanville-Bellville as die bond se beste oop klub uitgeskakel; en OG moes sy titel in Zimbabwe se Tussenstedelike Liga aan Harare Sports Club afstaan.

Zimbabwe en Namibië se beste oop klubs is ook nie deel van vanjaar se GB-reeks nie.

Jon Harris, Valsbaai se woordvoerder, sê toe die twee klubs besef hul GB-droom is vanjaar van die baan, het die Baai se spelers uit eie sak en met die hulp van plaaslike borge “soos in die ou dae” Harare toe getoer om twee wedstryde teen OG te speel.

Die tuisspan het die eerste met 17-15 gewen, maar die besoekers het die tweede met 62-19 oorheers.

Harris sê dié reeks het, net soos die platform wat die GB skep, ál klubrugby se goeie hoedanighede uitgelig.

“Die Harariërs het die wedstryde in groot getalle bygewoon, en die gees van samehorigheid tussen rugby en die gemeenskap was tasbaar.

“Daar is ure ná die wedstryde nog saam op die veld gekuier,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Cleophas Makatose (regs) wat 500 km ver gery het om saam met sy ou klubmaats te kuier, en Gareth Jones, die president van Valsbaai. (Foto: Verskaf)

“Klubrugby is ʼn werklikheid. “Dit het tekstuur, dit vind aanklank by die sintuie. Dit moet ervaar word om ten volle gewaardeer te word. Dis ʼn soveel groter werklikheid as wat ʼn TV-gehoor kan aanvoel.”

Harris sê klubrugby het ʼn wese wat vermaak en bekoor.

“Dit het ʼn hartstog. Dit het vurige ondersteuners en ʼn ongekunstelde betowering. Dis geskiedkundig en dis nuut. Dit is Suid-Afrika.

“Is dit nie die wese van klubrugby nie? Moet meer geld, eerder as minder, nie deur borge en ander daarin gepomp word om dit uit te bou nie?”

Hoe waar Harris se woorde is, kan nouliks beter verbeeld word as deur die rit van 500 km wat Cleophas Makatose, ʼn gewese Valsbaaise speler, van Bulawayo af Harare toe afgelê het om met sy ou klubmaats saam te kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.