GB: Tygerberg gaan nie met hom laat mors

Sy fondament is stewig gelê en die promotorskeuse, Tygerberg, is nie van plan om in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale klubreeks om die Goue Beker (GB) met hom te laat mors nie.

Xavier Fortuin, die Tiere se spanbestuurder, sê die span was pas vierde in die Westelike Provinsie se Superliga A – ná die Maties, Valsbaai en Hamiltons. Dis een van die uitmergelendste klubligas in die land en hy het in die proses met GB-spanne van die afgelope twee jaar, Durbanville-Bellville (die 2015-kampioen) en Hamiltons, afgereken.

Fortuin sê die span, uit ʼn sterk klub met en ryk rugbygeskiedenis, is die afgelope twee jaar uiters mededingend en is vasbeslote om te toon dat hy vir die grootste klubs in die land kan kers vashou.

“Besoekende spanne sal ervaar dat Floridapark in Ravensmead ʼn moeilike bestemming kan wees, met ʼn groot skare ondersteuners wat die tuisspan hartstogtelik aanspoor.”

Tygerberg het in 2001 die eindstryd van die ou nasionale klubtoernooi bereik, waar hy met 37-13 deur Pirates (Goue Leeus), afgerig deur Dick Muir, verloor het.

Fortuin sê die Tiere is in ʼn opwindende groep geloot en die Kapenaars verwag heelwat skouspelagtige, oop hardlooprugby.

“Dit sal moeilik wees om die kwarteindronde uit die groep te haal,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Tygerberg het in die loop van die seisoen ʼn hele paar sleutelspelers aan beserings of oorsese geleenthede afgestaan, maar Fortuin meen hy het steeds ʼn sterk kern wat goeie rekenskap van homself in die reeks kan gee.

Die verliese sluit die kaptein, Whalied Heyns, in, wat ʼn achillespees geskeur het; Shuaib (Bom) Samaai het Roemenië toe versit; Errol Jaggers het na die Valke verhuis; en Schalk Jooste se paadjie het via die Luiperds Ierland toe gelei.

“Hulle sou nuttig in die GB-toernooi te pas kom,” het hy gesê.

Fortuin sê die Tiere het ʼn kerngroep van 30 tot 40 spelers wat sake om ʼn plek in die span uitspook.

“Verskeie o.20-spelers het in die loop van die seisoen kans op top-vlak gekry, en dié kans met albei hande aangegryp. Daar is dus heelwat jong talent wat na vore tree en die taak in hierdie en toekomstige toernooie kan verrig.

“Tygerberg het lanklaas aan die toernooi deelgeneem, is in ʼn mate ʼn onbekende faktor en sal hoop van die ander spanne gaan hom onderskat.

“Die spelers het gewis nie die druk op hulle wat op die gunstelinge wag nie en kan daarop uit wees om te toon dat hulle in eie reg in die toernooi hoort,” het hy gesê.

“Soos al die ander spanne het hulle pas ʼn uitputtende provinsiale liga agter die rug en is dit ʼn uitdaging om hul spelpeil in die komende paar weke vir ʼn splinternuwe reeks te verhoog.

“Die lywe is bra moeg en seer, maar dit geld al die deelnemers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Matilda ·

Ek kan nie wag om vir die Tiere Sondag te kyk nie… Go Gary Williams…Go Tiere

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.