GB (A): Uitspeelstryde tuis sal klubs aanvuur

Goue BekerDie feit dat die uitspeelwedstryde in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker (GB) vanjaar op die topklubs se tuisvelde uitgespook word, sal klubs selfs meer as tevore aanspoor om uit te styg.

Só glo die verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), wat verlede jaar die verbeelding aangegryp het toe hy as 20ste en laaste gekeurde deelnemer die reeks gewen het.

Saam met Durbell in Groep A is die Bolandse Grootuitdaagkampioen, Villagers Worcester, die Grens se Superligakamioen, Old Selbornians van Oos-Londen, die Griffons se Eerste Liga-kampioen, Rovers van Welkom, en een van die twee spanne wat later vanjaar vir die reeks sal in aanmerking kom.

Klubs wat vanjaar hul bonde se ligas wen en dit nie verlede jaar reggekry het nie, sal op 20 en 27 Augustus om die oorblywende twee plekke in die reeks uitspeel.

Villas het ook in 2013 en verlede jaar aan die reeks deelgeneem, met `n 13de plek verlede jaar sy beste vertoning. Old Boys was nog elke jaar deel en het in 2014 die kwarteindronde bereik. Rovers het eweneens nie `n reeks misgeloop nie en was in 2014 13de.

Durbell en Old Selbornians was verlede jaar ook in dieselfde groep en Old Boys het die uiteindelike kampioen 22-14 in die groepwedstryd in Oos-Londen geklop.

durbell-logo.squareFynproewersdis vir Durbell teen buurman

♦ Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbanville-Bellville, sê die klub is baie opgewonde en voel geëerd om sy titel te kan verdedig.

Hy is vol lof vir Duane Heath en sy span by die SA Rugbyunie (Saru) oor wat hulle die afgelope paar jaar met die oop klubs se nasionale reeks tot stand gebring het.

“Dit het meegewerk tot `n herlewing van klubrugby, nie net in die Wes-Kaap nie, maar regdeur Suid-Afrika.”

Nagel sê Durbell glo daar is geen maklike groepwedstryd in die reeks nie.

“Elke enkele wedstryd sal op `n strawwe kragmeting uitloop wat haarfyn beplanning en uitvoering verg om elke moontlike geleentheid te benut wat daar is om punte aan te teken.

‘Dis belangrik om in ag te neem dat elke wedstryd teen `n kampioen of topvlakklub in sy streek is, en dat hulle die respek betoon moet word wat hulle toekom.”

Nagel sê die kampioen sien uit na die kragmetings teen die drie spanne wat bekend is en sien met afwagting uit na die kwalifiserende ronde einde Augustus wat die vierde teenstander sal bepaal.

“Die wedstryd teen ons Wes-Kaapse buurman, Worcester Villagers, beloof `n fynproewersdis omdat die derbygedagte `n goeie sprinkeling speserye byvoeg.

“Old Selbornians het ons `n opstopper gegee toe ons in die eerste ronde verlede jaar in Oos-Londen teen hulle gespeel het, en ons sal dié keer lugtig vir hulle wees.

“Welkom Rovers sal eweneens `n uitdaging bied, veral omdat ons Vrystaat toe moet reis, waar hulle die manne groot en hard kweek.”

Nagel sê die afwyking van die kenmerkende formaat waar die uitspeelrondes in die Paasnaweek afgehandel is, om die kwarteind-, halfeind- en eindronde op die topklubs se tuisvelde te speel, bied bykomende aansporing vir klubs om die uitspeelfase te bereik.

“Daar lê `n lang jaar met talle rugbywedstryde voor aleer die Goue Bekerreeks 10 September begin. Ons fokus dus nou eers op ons eerste wedstryd 27 Februarie wanneer Ceres ons ontvang.

“Ons nooi almal uit om ons vordering in 2016 met Twitter by @DurbellRFC te volg,” sê Nagel.

villagers worcesterSkuif kan voordeel vir Villagers inhou

♦ Danwill Pienaar, Villagers Worcester se spanbestuurder, sê dis vir die klub `n besonderse voorreg om weer aan die reeks deel te neem.

“Ons is in `n baie sterk groep, met die Wes-Kaapse derby teen Durbell seker ons grootste wedstryd. Natuurlik sal dit nie maklik wees om die huidige kampioen te troef nie.

“In só `n sterk en mededingende groep sal die wedstryde tuis vir ons baie belangrik wees. Met `n bietjie geluk kry ons dalk `n gunstige loting vir tuis en weg.

“Villagers het `n baie goeie voorseisoen gehad en veral die skuif van die Goue Beker na later in die seisoen kan `n groot voordeel vir ons inhou,” se Pienaar.

Old Selbornians logoOld Boys voorspel epiese botsing

♦ Matt Abdo, die uittredende voorsitter van Old Selbornians, sê die groep waarin die klub geloot is, lyk besonder sterk.

“Ek is oortuig ons kan sterk teenstand van elk van die teenstanders verwag,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Abdo, wat sy tentpenne Johannesburg toe verskuif, sê waar Old Boys verlede jaar die enigste span was wat die uiteindelike kampioen, Durbell, kon klop, twyfel hy nie dat vanjaar se kragmeting tussen die twee spanne `n epiese botsing sal wees ongeag waar dit plaasvind.

“Per slot van sake kan enige span op `n bepaalde dag wen, dus is Old Boys se doelwit dieselfde as verlede jaar om nie verder as die eersvolgende wedstryd te kyk nie.

“Dit ly geen twyfel nie dat Villagers, Rovers, en selfs die span wat nog aangewys moet word, taai en fisieke teenstand sal bied.

“Spelerbestuur in die rondomtalie sal van deurslaggewende belang wees. Hopelik bevind Old Selbornians hom aan die einde hiervan in die topagt.

“Ons is gretig om op verlede jaar se vertoning te verbeter,” het hy gesê.

rovers welkomRovers glo sake sal anders verloop

♦ Butch Nieuwenhuys, die sekretalis van Rovers, sê hulle sien daarna uit om die eerste keer met Old Boys en Villagers kragte te meet, en weer `n kans teen Durbell te kry.

“Almal is tradisioneel sterk klubs en ons skik ons pas sodanig om ten beste op dreef vir die Goue Beker te wees.”

Die Welkomse klub het `n klompie knap jong spelers by gekry – Nieuwenhuys sê daar daag weekliks nog een of twee nuwelinge op – en die staatmakers het behoue gebly.

“Die vereiste dat `n Goue Beker-speler in minstens 50% van sy span se ligawedstryde moes speel, behoort `n verskil te maak. Voorheen het dit gebeur dat spelers in die nasionale reeks gespeel het, net om na afloop daarvan na hul werklike klubs terug te keer.

“Met die reeks om die Curriebeker dan in volle gang sal die provinsiale spelers reeds gekontrakteer wees.

“Ja, dalk is dit vanjaar die reeks vir die ‘werkende man’.”

Nieuwenhuys sê Rovers spits hom nou eers daarop toe om sy kroon plaaslik te verdedig, “wat interressant kan raak in die lig van praatjies wat die rondte doen”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.