GB: Valsbaai is met `n wenplan Loftus toe

Valsbaai-logoDirectAxis Valsbaai (Westelike Provinsie) is Saterdag Loftus Versfeld toe met `n plan om Pretoria Polisie (Blou Bulle) te klop.

Só het die Kaapse span se hoofafrigter, Johnathan van der Walt, ná sy span se sege van 40-12 (rustyd 13-12) aan Pale Toe! gesê.

“Ons het geweet hulle maak daarop staat dat ons die hoogte bo seespieël sal voel en dan die bal wyd wil versprei.”

Hy sê Valsbaai se vaste fasette, veral die lynstane, was puik en het `n goeie aanvalsbasis geskep.

“Ná 20 minute het die Loftus-lug toegeslaan en die manne kon nie gesonde besluite neem terwyl hulle gesukkel het om suurstof te kry nie.

“Was dit nie vir talle hanteerfoute en verkwiste geleenthede nie, kon ons rustyd selfs 27-5 voorgeloop het. Polisie verdien egter lof vir die wyse waarop hy vasgebyt het om met die omdraaislag slegs 12-13 agter te loop.”

Van der Walt sê die verposing van tien minute het Valsbaai in staat gestel om te herstel en sy gedagtes agtermekaar te kry met die oog op die taak wat voor lê.

“`n Klompie goed gekose woorde en `n paar byvoeglike naamwoorde het die fokus herstel, en ons uitvoering in die tweede helfte was goed.

“Ons losskakel, Annas (Andri) Claassen het die kroon op `n skittervertoning geplaas met `n gebruiklike strafdoel van 60 meter – waarvooer hy reeds voor die afskop gevra het.

“Die agttal het puik op die uitdaging gereageer en die agterlyn het sy kant gebring.

Van der Walt sê hedendaagse rugby is `n 22-manspel en dit was die bank se taak om nuwe energie en groter hartstog in die kragmeting te werp.

“Al ons drieë in die tweede helfte is deur spelers van die bank af gedruk – Dylon Frylinck, Dasch Barber en Jason Pretorius.

“Valsbaai se noodverdediging ná `n lynbreuk en die vasberadenheid om die doellyn te verdedig was ooglopend en `n plesier om te aanskou.”

Van der Walt sê die Loftus-ervaring was verbasend vir die span … “om te besef hoeveel beroemde spanne en spelers op dié veld gespeel het, stem `n mens nederig”.

Die WP se Curriebekerafrigter John Dobson was die gas Vrydag by die truiuitdeling en hy het die span van positiewe aanmoediging en wyse wenke bedien.

Valsbaai speel Sondag teen die verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville, in die halfeindronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Kluyts ·

Geluk Valsbaai en sterkte vorentoe. Julle was werklik nederig na julle oorwinning en julle beplanning en uitvoering van julle wedstryd plan puik.
Dankie dat julle na die wedstryd gevra het om ‘n bier in die Polisie kleedkamer te kom drink. Dis die gees van rugby waarna ons terug verlang. Sterkte vorentoe. Julle is ware ambassadeurs vir die spel !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.