GB: Valsbaai verstom teen Bobbies in kwarteind

Valsbaai-logoValsbaai (Westelike Provinsie) het vriend en vyand verstom met `n wegholsege in die oop klubs se reeks om die Goue Beker Saterdag oor Pretoria Polisie (Blou Bulle) op Loftus Versfeld in snikhete Hoëveldse somerweer.

Nie eens die grootste Valsbaai-ondersteuner sou voorspel dat sy span die kragmeting 40-12  (rustyd 13-12) sou wen nie en die kusspan verdien `n klop op die skouer vir wat hy vermag het. Die ander kusspanne kon nie die pas in die Noorde volhou nie.

Die wedstryd op Loftus het mededingender verloop as wat die telling aandui, en op die ou end was dit waarskynlik die besoekers se groter vaart agterlangs en beter lynstaanspel wat die verskil gemaak het.

Die Baai het uit die staanspoor oorheers en met groter dringendheid aangeval sodat hy kort voor lank 10-0 voorgeloop het.

Polisie het egter gaandeweg `n houvas gekry en nadat Hendrik van der Nest (skrumskakel) `n skitterende individuele drie gedruk en Dillon Laubscher dit verdoel het om Polisie slegs 12-13 agter te laat loop, het dit `n paar minute lank gelyk of die wedstryd `n draaipunt bereik het.

`n Bal wat op die doellyn verloor is en `n mislukte strafskop pale toe het egter tot gevolg gehad dat die Bobbies-stukrag verkwis is.

Andri Claassen se geleerde skopvoet het die telboord vir die Kapenaars aan die rol gehou – hy het 20 punte met vier elk strafdoele en doelskoppe behaal – en toe die plaasvervanger-skrumskakel Dylon Frylinck op eie houtjie `n briljante drie druk nadat hy `n gaping in die lynstaan gevind het, was die koeël deur die kerk.

Nog twee drieë in die laaste paar minute het Valsbaai se voorsprong verder gerek.

Teleurstelling

Die gehalte rugby het oor die algemeen vir `n kwarteindstryd teleurgestel, en `n norring foute aan beide kante (veral in die tweede helfte) het verhoed dat die wedstryd werklik op dreef kom. Albei spanne kon meer drieë druk as hul afronding beter was.

`n Mens kan nie glo dat twee sulke puik spanne die kwarteindronde kon bereik as hulle soveel foute in die groepfase begaan het nie, en `n mens moet die vraag begin afvra hoeveel die uitputtende hitte daartoe bygedra het.

Die rugbybase sal in die belang van die spel na die lengte van die seisoen moet begin kyk. Rugby is nie om dowe neute tradisioneel `n wintersport nie.

Die puntemakers –

Valsbaai 40 (13) – Drieë: Mustaqeem Jappie, Dylon Frylinck, Dash Barber, Jason Pretorius. Doelskoppe: Andri Claassen (4). Strafdoele: Claassen (4).

Pretoria Polisie 12 (12) – Drieë: Piet Botha, Hendrik van der Nest. Doelskop: Dillon Laubscher.

Ander uitslae –

Durbanville-Bellville 27, Evergreens 19; Rustenburg Impala 52, College Rovers 19; Brakpan 61, Port Elizabeth Polisie 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Die laaste regtige Springbok afrigter wat ons gehad het, het eers Valsbaai en toe Boland tot gerekende spannegebrei. Wie rig Valsbaai af?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.