GB: Valsbaai wen oortuigend teen Collegians

Roemark Smith, driedrukker van Valsbaai. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby).

Roemark Smith, driedrukker van Valsbaai. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby).

DirectAxis Valsbaai (Westelike Provinsie) het sy Goue Bekerveldtog met `n oortuigende oorwinning oor Durban Collegians (KwaZulu-Natal) afgeskop.

Die Baai het die kragmeting op Philip Herbsteinpark in Constantia 37-19 gewen, nadat hy rustyd 15-7 voor was.

Jon Harris, die woordvoerder van Valsbaai, sê die Durbaniete het uit die staanspoor vuurwarm, fisieke rugby gespeel ondanks die snerpende koue suidooster wat gewaai het. Veral die slotte Denham Fosteras en Chris van Leeuwen en die flank Wade Elliott het die pap dik aangemaak.

“Collegians het reguit en sterk gehardloop, `n aanduiding dat die span sy huiswerk gedoen het, en dit was duidelik dat die Baai te kampe gehad het met `n goeie, uitgeslape teenstander met selfvertroue spruitend uit sy ervaring van die reeks.

“Dis waar die Constantia-span `n pluimpie verdien,” het Harris aan Pale Toe! gesê. “Valsbaai het `n volmaakte mengsel van ervaring en jeug, met die kern van die groep wat touwys, strydvaardig en immuun teen paniek is. Graham Knoop en sy makkers het veral in die eerste kwart van die wedstryd rotsvas gestaan, dapper verdedig en elke kans benut om punte aan te teken.”

Hulle het in dié tydperk twee drie behaal – deur die vleuel Mustaqueem Jappie en die skrumskakel Dylan Frylinck – en die druk na Collegians verplaas (10-0).

Stryd van die Dylans

Harris sê dit het Collegians aangespoor om sy gestruktureerde spelpatroon te volg, met fase op fase wat die Baai se verdedigers hard laat werk het.

“Die skrumskakel Dylan Marcus, wat in die stryd van die Dylans op nommer nege gefloreer het, het om `n losskrum geglip en onder die pale gedruk. Die losskakel, Mondi Nkosi, het dit verdoel (10-7).

“Valsbaai se veteraan-heelagter, Adnaan Osman, het `n briljante individuele drie gedruk om Colligians se wurggreep te help afskud (rustyd 15-7).

Valsbaai-logo“Hy het die bal op die middellyn in die hande gekry, `n stuk of drie verdedigers gepypkan, `n kortskoppie gegee, die bal agternagesit, dit opgepik en gaan druk.”

Harris sê dit benadruk Osman se gehalte as speler wat hom langer as `n dekade een van die topspelers in klubrugby maak.

Teen dié tyd het Valsbaai se voorspelers Collegians in die vaste fasette en by die afbreekpunte oorheers, sê hy.

“Die slotte, Knoop en Brandon Wood, het hartstogtelik die veld vol gespeel, die bal met mening gedra en ongenaakbaar in die losskrums ingedons. Knoop het met goeie tweehandige rankwerk `n aantal lynstaanballe by Collegians afgeneem. Ondanks sy kleiner statuur was Wood se lakwerk en stormlope beensplinterend.

“Die immergroen flank Justin van Winkel het sy gebruiklike hoë spelpeil gehandhaaf.

“Die stutte Wesley Chetty en Ashley Wells (laasgenoemde wat waarskynlik die onmisbaarste bydrae gelewer het) en die haker Vlam van Vuuren het uitmuntend geskrum, en al het die skeidsregter herhaaldelik gemeen dis onwettig en hulle gestraf, het hulle die sielkundige stryd gewen.”

Meestal bo-oor

Harris se die besoekers het begin moeg word, en Valsbaai het in die eerste 20 minute ná rustyd 17 punte sonder teenspraak behaal. Hy het die bal met selfvertroue rondgegooi en teenaanvalle diep uit sy eie gebied van stapel laat loop.

Die vleuel Danie Roux het 40 meter vir `n drie genael, “soms om, maar meestal bo-oor teenstanders”; en die agsteman, Ryan Olivier, het `n tweekuns behaal (32-7).

Harris sê Collegians se fut was egter nie uit nie en die senter Bradley Ellse se twee drieë was van uitmuntende gehalte. Ethan Beukes het die tweede verdoel (32-19).

Danie Roux - 40 meter vir drie genael. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Danie Roux – 40 meter vir drie genael. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

“Jappie, teen dié tyd op heelagter, het die grondslag vir Valsbaai se skouspelagtige sewende drie gelê toe hy van die middellyn af aangeval en deur die verdediging gevleg het, voor hy die bal aan die plaasvervanger Roemark Smith gegee het, wat met sy vaart en ratse voetwerk met die res van die verdedigers afgereken het.” (37-19).

Harris som die sege as `n spanpoging op.

“Naas die voorspelers se bydrae, was die agterlyn, onder leiding van die losskakel, Andri Claasen, doeltreffend en opwindend.

“Frylinck vorm voortdurend `n bedreiging, sy voorspelbaarheid en verbete soeke om veld te wen `n groot bate vir die span.

“Sy plaasvervanger Ridhaa Damon hou die druk van agter die skrum vol.”

Harris waarsku dat Valsbaai se skoppers, wat met slegs een uit sewe pogings pale toe kon slaag, sal moet regruk.

“Dit kan nie genegeer word in `n reeks van kampioene nie.”

Valsbaai speel aanstaande week op Brakpan teen die tuisspan (die Valke se kampioen).

Presidentsbeker

♦ Die klub se diepte word weldeeglik getoets wanneer hy ook Saterdag in die halfeindstryd van die WP se Presidentsbekerreeks teen die Viktoriane van Stellenbosch te staan kom.

Die wedstryd in Constantia begin 16:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.