GB: vier wedstryde hou kwarteind-sleutel

rtbimpala teen piratesVier wedstryde in Saterdag se laaste groepronde hou die sleutel om te bepaal watter twee spanne nog tot die kwarteindronde van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker toegelaat sal word.

Ses plekke is reeds bespreek en vyf spanne ding op Rustenburg, Brakpan, in Kaapstad en Windhoek om die oorblywende twee mee.

Een van die strafste wedstryde behoort die een by die Impalaklub op Rustenburg tussen die tuisspan, wat die Luiperds in die reeks verteenwoordig, en Pirates (Goue Leeus) te wees. Pirates, wat aanvanklik as `n gunsteling beskou is om die reeks te wen, moet Impala eenvoudig klop as hy van `n plek in die kwarteind wil seker maak. `n Gelykop uitslag, veral met `n bonuspunt vir vier drieë kan dalk ook slaag, maar dit sal afhang van wat in Windhoek gebeur.

Impala lyk in hierdie stadium besonder sterk, maar Pirates was vroeër vanjaar indrukwekkend. Dié twee spanne weet wat om van mekaar te verwag omdat hulle voorheen in die Goue Leeus se senior liga kragte gemeet het.

Dié wedstryd begin 13:30 en al die ander 15:00.

Valbylstryd

Tensy Pirates wen, sal die wedstryd in Windhoek tussen Wanderers (Namibië) en Evergereens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte) op eersgenoemde se veld `n valbylstryd wees om die ander kwartfinalis in Groep A te bepaal. Trouens, `n gelykop uitslag behoort in so `n geval genoeg te wees om die besoekers deur te dra.

Nog `n kragmeting wat `n stryd tot die bitter einde kan oplewer, is die een in die Bosmanstadion, Brakpan, tussen die tuisspan (Valke) en Old Georgians van Harare (Zimbabwe). OG het die onbenydenswaardige taak dat hy die stoomroller-tuisspan moet klop om hoegenaamd `n seggenskap in die reeks te wil behou.

Dan is hy boonop uitgelewer daaraan dat Witrivier (Pumas) op die Phil Herbsteinveld in Constantia vir `n opperste verrassing moet sorg deur Valsbaai (Westelike Provinsie) te klop.

Gunstelinge

Dit wil egter lyk of die Baai die ander kwartfinalis in dié groep sal wees.

Die Panne tel – saam met Impala en Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie) en College Rovers (KwaZulu-Natal) – tans tussen die gunstelinge om die reeks te wen, maar die Zimbabwiese span het getoon dat hy nie onderskat moet word nie.

Die feit dat albei buitelandse spanne op hierdie laat stadium nog vir die kwarteindronde in aanmerking kan kom, bewys dat hulle grootliks tot die mededingendheid van die reeks toegevoeg het.

Sending van sy eie

Die verdedigende kampioen, Durbell, het in Durbanville `n sending van sy eie. Hy moet minstens gelykop speel teen die tweede geplaaste College Rovers om `n kwarteindstryd tuis aan te bied, so nie vind dit in Durban plaas. Albei spanne is dusver onoorwonne en dit kan aanvaar word hulle sal mekaar Saterdag met heup en skenkel sal slaan.

Op Loftus Versfeld se B-veld in Pretoria kan die onoorwonne plaaslike Polisiespan (Blou Bulle) van sy uitblinkers `n blaaskans gee in die wete dat hy van `n tuiskwarteind verseker is. Hy behoort steeds met Oos-Londen Polisie af te reken, en sy grootste uitdaging is om sy fokus te behou met die oog op die kwarteindronde.

Old Selbornians (Grens) en Welkom Rovers (Griffons) speel basies op eersgenoemde se veld in Oos-Londen om die derde plek in Groep A, terwyl Bloemfontein Polisie (Vrystaat) op sy tuisveld, Bobbiespark, sy eerste oorwinning najaag teen Sishen (Griekwas), wat self `n ding of twee te bewys het.

Die spanne wat reeds van hul plekke in die uitspeelronde seker is, is Durbell, College Rovers, Impala, Brakpan, Pretoria Polisie en Port Elizabeth Polisie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.