GB: Welkom respekteer almal, vrees niemand

Welkom, die Griffons se kampioen, benader die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker met die slagspreuk “respekteer almal, vrees niemand nie”.

Só laat weet die span se hoofafrigter, Swannie Swanepoel, wat aandui dat die klub laas met die ou nasionale klubkampioenskap op hierdie vlak meegeding het.

“Vanjaar is voorwaar ʼn goeie jaar vir Human Auto Welkom. Nie net het hy die Griffons-Luiperdsoorgrensliga oortuigend gewen nie, maar het hy uiteindelik vir die GB-reeks in aanmerking gekom.”

Swanepoel sê dis voorwaar ʼn groot uitdaging wat voorlê, en met die doelwitte wat deur die afrigters en spelers gestel word, glo Welkom dat ʼn goeie resultaat op hom wag.

“Die teenstanders is nie maklike spanne nie, en die reeks sal wedstryd vir wedstryd met die nodige omsigtigheid aangepak word.

“Dit is ook ʼn groot voorreg om teen die huidige kampioen Newrak Rustenburg Impala (Leopards) kragte te meet, nadat Welkom die reeks teen Sasol van Secunda (Pumas) afgeskop het.”

Die ander twee spanne in die groep is Bloemfontein Polisie (Vrystaat) en Vereeniging (Valke).

Swanepoel se Welkom is goed voorberei.

“Al die spelers is fiks, en diepte behoort nie ʼn probleem wees nie. Die elite-groep omvat ʼn gesonde kombinasie van ervaring en jong spelers.

“Die span speel al twee seisoene as ʼn eenheid en die spelers het respek en goeie dissipline wat tot hul voordeel strek. Onder leiding van die hoogs ervare Japie Nel kan die span sukses in die reeks behaal.

“Omdat dit vir al die Welkomse betrokkenes ʼn eerste keer in dié soort kompetisie is, is dit ʼn groot uitdaging.”

Swanepoel sê elke span sal op meriete benader word om die gestelde doelwit – om die Top-8 te haal – te bereik.

Die span teen Sasol –

  1. Christo Boshoff, 2. Quintin Davies, 3. Gert Aucamp, 4. Ernie Halberg, 5. Werner Kotzé, 6. Michael Herbert,7. Wayven Smith, 8. Sabata Mochachane, 9. Kelvano King, 10. Ryno Venter, 11. Norman Nelson, 12. Japie Nel (kaptein),13. Cheswin Lewack,14. Nazo Nkala.15. Colin Herbert. Bank: 16. Robert Randall, 17. Sive Ntwasa,18. Karel Kirsten,19. Mackie Pelser, 20. JP Botha, 21. Neill Fullagar, 22. Richie Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.