GB: Witrivier is liewer `n buiteperd

witrivierDis altyd beter om `n buiteperd te wees en `n verrassing of twee op te lewer, glo Bennie Pringle, die voorsitter van Witrivier.

Dié klub verteenwoordig die Pumas van Saterdag af in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.

Pringle het aan Pale Toe! gesê Witrivier het uit sy vorige deelname in 2013 aan die destydse reeks om die Gemeenskapsbeker baie geleer, en hard aan sy diepte gaan werk.

“Ons het ook seker gemaak dat ons `n goed gebalanseerde span met ervaring, jeug en talent bymekaar gebring het.

“Witrivier is deeglik daarvan bewus dat hy gewis op huidige vorm teen drie van die sterktse klubs in die land deelneem, en die feit dat ons niks van Old Georgians van Zimbabwe weet nie, maak dit vir ons baie moeilik.”

Valsbaai (Westelike Provinsie), Durban Collegians (KwaZulu-Natal) en Brakpan (Valke) is die ander spanne in Groep C van die reeks.

Pringle sê die meeste van die spanne sit met dieselfde probleem as Witrivier wat die afgelope vyf weke geen rugby gespeel het nie.

“Dit het ons egter in staat gestel om as `n groep bymekaar te kom en fisiek en geestelik tot die beste van ons vermoëns voor te berei.

“Dis nou elke speler se taak om Saterdag sy beste op die veld te lewer.”

Hy sê vier van Witrivier se staatmakers herstel nog van beserings en kan nie Saterdag speel nie, maar hy vertrou hulle sal in van die groepwedstryde kan speel.

“Dit sal nooit maklik wees om wegwedstryde te speel met spelers wat in heeltydse beroepe staan nie. Albei kuswedstryde is weg, en ek glo dit sal ons grootse uitdaging wees.

“Ek is oortuig al die ander spanne in die reeks is dieselfde mening toegedaan, en werk net so hard om hul beste moontlike span vir tuiswedstryde in die veld in te stoot.

“Niks in die toernooi is `n gegewe nie, kyk maar na Durbanville-Bellville, verlede jaar se kampioen, wat die laaste span was om vir die reeks in aanmerking te kom.

Pringle sê as `n klein klub wat net twee ligaspanne in die veld kan stoot, gaan Witrivier dit vir niemand bloot op `n skinkbord gee nie.

“Dit gaan kliphard wees, en daarom nooi ons die Laeveld se gemeenskap om Witrivier met sy tuiswedstryde te gaan ondersteun, om sodoende ook weer dankie te sê aan die SA Rugbyunie (Saru) wat die klubs in die toernooi die geleentheid bied om klubrugby in hul gemeenskappe te laat herleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.