Gebore Bolander druk drie keer in Europese liga

ʼn Gebore Bolander het Saterdag ʼn driekuns vir die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) in sy wedstryd teen die Italiaanse klub Benetton Treviso in die Europese Pro12-liga aangeteken.

DTH van der Merwe, wat in Worcester gebore is en Kanada reeds sedert 2006 in 42 toetse verteenwoordig het, se span het die wedstryd met 51-5 oorheers.

♦ Twee Suid-Afrikaners het elk ʼn drie in nog ʼn Italiaanse span, Zebre van Parma, se oorwinning oor die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons (NGD) gedruk.

Die losvoorspelers Derick Minnie en Johan Meyer het onderskeidelik in die 30ste en 52ste minuut van die wedstryd gaan druk.

Minnie het Superrugby vir die Sharks en die Lions gespeel; en Meyer Curriebekerrugby vir die Sharks.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Springbok Schalk Brits en die gewese Stormer Michael Rhodes Saterdag elk ʼn drie vir Saracens teen Harlequins gedruk.

Saracens het die kragmeting met 40-19 gewen.

Die gewese Sharks-losskakel en SA Skolespeler Tim Swiel het ʼn doelskop vir Quins behaal.

♦ Vrydag het nog ʼn Bok, die skrumskakel Francois Hougaard, ʼn drie vir Worcester teen Sale gedruk.

Sale het die wedstryd met 36-24 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.