Gee Cheika nog kans, pleit Hansen

Steve Hansen – breek ʼn lansie vir sy teenstander. (Foto: Twitter)

Die All Black-afrigter, Steve Hansen, is een van die gaafste ouens in rugby.

Toe hy in Tokio by die Nieu-Seelandse spanaankondiging vir Saterdag se niksseggende Bledisloe-toets teen die Wallabies uitgevra is oor die toekoms van die Australiese afrigter, Michael Cheika, het hy Cheika geloof en ʼn lansie vir hom gebreek.

Hansen sê Cheika, ondanks sy span se geploeter, moet nie vir die wolwe gegooi word nie. Hy het Cheika met José Mourinho, Manchester United-sokkerspan se beleërde afrigter, vergelyk en gesê hulle is in dieselfde bootjie.

Hansen het ’n paar jaar gelede op dieselfde manier vir die oud-Springbokafrigters Heyneke Meyer en Allister Coetzee in die bresse getree.

Gee hulle nog ʼn kans, het hy destyds gesê, maar almal weet dat hulle onderskeidelik nie weer aangestel is nie of afgedank is.

Hansen bedoel dit opreg, want dié oudpolisieman braai gereeld ʼn vleisie saam met sy teenstanders se afrigters en kuier glo heel lekker. Hy weet waarvan hy praat, want hy is ook al deur dieselfde meule.

Dis hoekom niemand ʼn slegte woord (behalwe miskien Eddie Jones!) oor Hansen te sê het nie.

♦  Intussen het Hansen die versoeking weerstaan om Beauden Barrett na heelagter te skuif en Richie Mo’unga op losskakel kans te gee. Hy het wel die heelagter Ben Smith na vleuel geskuif, maar die vlugvoetige Damian McKenzie met die nr. 15-trui toevertrou.

Dis straks die All Blacks se heel sterkste span vanjaar, met Brodie Retallick en Joe Moody wat ná hul beserings terugkeer.

♦  Cheika moes noodgedwonge aan sy span skommel, want die staatmaker-slot Adam Coleman is ook beseer. Hy word deur Rob Simmons vervang.

Cheika het verras toe hy Israel Folau, wat nou die klimtol van Australiese rugby is, op senter gekies het.

Die spanne 

All Blacks
Damian McKenzie, Ben Smith, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, TJ Perenara, Kieran Read (kaptein), Ardie Savea, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Nathan Harris, Karl Tu’inukuafe, Nepo Laulala, Brodie Retallick, Matt Todd, Aaron Smith, Richie Mo’unga, Anton Lienert-Brown.

Wallabies
Dane Haylett-Petty, Sefa Naivalu, Israel Folau, Kurtley Beale, Marika Koroibete, Bernard Foley, Will Genia, David Pocock, Michael Hooper (kaptein), Ned Hanigan, Rob Simmons, Izack Rodda, Allan Alaalatoa, Folau Fainga’a, Scott Sio. Bank (uit): Tolu Latu, Sekope Kepu, Taniela Tupou, Rory Arnold, Jack Dempsey, Pete Samu, Nick Phipps, Samu Kerevi, Tom Banks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.