Gee die keiser wat hom toekom

Eddie Jones - op die randjie van ʼn rekord (Foto dailymail.co.uk)

Eddie Jones – op die randjie van ʼn rekord (Foto dailymail.co.uk)

Eddie Jones is een van daardie afrigters wie se mond jy altyd wil toerits.

Hy is een van die wêreld se beste afrigters, dalk beter as die All Blacks se Steve Hansen, want kyk maar net wat hy by die Brumbies, Australië, Japan en nou by Engeland uitgerig het.

In 2007 het hy die Bokke se agterlyn binne ʼn kort rukkie ʼn metamorfose by die Wêreldbekertoernooi laat ondergaan. Maar jy moet alles wat hy sê, met ʼn knippie sout neem, want hy het die vermoë om onder jou vel in te kruip, om met jou kop te smokkel, om sy eie spelers se spelpeil te lig en sy teenstanders in ʼn strik te laat trap.

Wanneer Engeland Saterdag in Dublin in die Sesnasies-reeks teen Ierland speel, staan hy op die drumpel van wêreldroem.

Nog net vyf spanne het sedert 1910 die Sesnasies twee keer na mekaar gewen. Engeland het reeds vanjaar se Sesnasiesreeks gewen toe die Rose Skotland verlede week afgeransel het. Maar nog belangriker,  geen span (groot lande) kon 19 opeenvolgende toetse wen nie. Nie die All Blacks nie, nie die Bokke nie en nie Engeland nie. Nou staan Engeland voor daardie deur.

“Ierland hou daarvan om partytjies te bederf. En die partytjie wat hulle die meeste wil bederf, is die Engelse een,” het Jones aan bbcsport.com gesê.

Jones is reg, want hy het Engeland nie net in een van die beste spanne ontwikkel nie, maar ook een van die mees gehate gemaak – deels oor sy uitsprake, snedige kommentaar en die spelers se arrogansie.

“Dis soos om ʼn berg uit te klim, elke keer wanneer jy op ʼn ander vlak uitkom, is daar groter uitdagings. Jou ore pyn, jou neus is seer. Dis presies dieselfde wanneer jy die leer van sukses klim. Alles raak moeiliker.”

Kan Ierland Engeland klop?

As jy met jou kop dink, nee, maar as jy met jou hart praat, dalk ja.

Tuisveldvoordeel is die Iere se grootste bondgenoot, want hulle is sedert 2013 onoorwonne in Dublin.

Engeland kon net twee van sy laaste vyf wedstryde daar wen en in 2001 en ’11 is hul Grand Slam-planne ontspoor.

Maar ek gaan my kop op ʼn blok sit en voorspel dat Engeland maklik sal wen.

Die Iere het ʼn rits beserings (Rob Kearney en Conor Murray) en hulle is onbestendig (oorwinnings oor  Frankryk en Italië, maar neerlae teen Wallis en Skotland).

Daarteenoor is Engeland beseringsvry, die span het verlede Saterdag sy piek teen die Skotte bereik en was voorheen al in die loopgraaf.

En die Rose het Jones as die groot weerligafleier.

Die twee ander wedstryde is van akademiese belang. Wallis kan wel tussen die topvier op die Wêreldranglys opskuif as hy Frankryk in Parys klop en Engeland troef die Iere.

En dan wil die Skotte ʼn gepaste afskeidsgeskenk aan die afrigter Vern Cotter gee wanneer hulle op Murrayfield teen Italië speel.

Bepalings –

14:15 – Skotland vs Italië, op SS 2
16:30 – Frankryk vs Wallis, op SS 2
18:45 – Ierland vs Engeland, op SS 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.