‘Gee hom die bal, gee hom die bal!’

Pierre Spies aan die hardloop vir sy Franse klub, Montpellier. (Foto: Facebook)

Daar is sekere spelers wat jou hoedervleis gee wanneer jy hulle die eerste keer in aksie sien. As jong tjokkertjies het ons byvoorbeeld Saterdae na Loftus gestroom om Frik du Preez in aksie te sien.

Wanneer hy vir Weermag of Noord-Transvaal net een of twee keer bó die ander spelers in die lynstane uitgerank het of op loop gegaan het, was jou dag gemaak.

Jy was bereid om jou pa se Valiant te was, om die gras te sny, om jou somme te doen, net solank jy die volgende Saterdag weer op Loftus kon wees.

Daar was baie ander begaafde spelers ná hom, voetballers, soos hulle destyds deur die rugbylegende Oubaas Markotter genoem is. Soos Naas Botha, Carel du Plessis, Joost van der Westhuizen, Victor Matfield, Fourie du Preez, Joe van Niekerk, Bryan Habana en Pierre Spies.

Ja, ek voeg Spies, wat Sondag sy uittrede aangekondig het, by hierdie groepie.

Toe ek hom die eerste keer in Affies se eerstespan in aksie gesien het, het ek geweet, hy sal ʼn grote word.

Hy was groter, langer en swaarder as byvoorbeeld Du Preez en Colin Meads, en was net so blitsvinnig soos Jonah Lomu. Hy was een van die sterkste rugbyspelers wat ek teëgekom het.

Ja, daar was ouens wat sê dat hy weggeraak het wanneer dinge warm begin raak het, maar wie kan teen 53 toetse vir die Bokke en 116 wedstryde vir die Bulls stry?

Die Franse rugbyskrywers het altyd kopgeskud wanneer hulle oor sy loopbaan in Frankryk gesels het, die Engelse rugbyskrywers was gaande oor sy vermoë. In Japan is hy op die hande gedra.

Hoekom het hy in so min (?) toetse gespeel? En waarom was hy nooit die Bokkaptein nie, is daar altyd gevra.

“Gee hom die bal, gee hom die bal,” het dit altyd in my agterkop gemaal wanneer hy vir die Bulls of Bokke gespeel het. En wanneer dit gebeur het, het dit gewoonlik op ʼn drie uitgeloop.

Dit het my aan sy pa, ook Pierre Spies, laat terugdink, toe hy jare gelede ʼn paar keer in Pretoria se sosiale kantoorliga (daar was niks sosiaal daaraan nie, dit was hard, taai en genadeloos) vir Openbare Werke gespeel het.

Ek het as groentjie-student ook een of twee keer saam met hom gespeel wanneer my broer, wat die span se kaptein was, my laatmiddag gebel het wanneer hulle ʼn speler kort was.

“Hier’s ʼn jong outjie van Ermelo (ʼn leerling-tekenaar) wat vandag ook vir ons speel,” het my broer voor die wedstryd gesê. “Hy is aan die maer kant, maar gee hom die bal, dan kyk ons wat hy kan doen.”

Nadat Spies sy vierde drie gedruk het, het my broer aanhou skree: “Gee hom die bal, gee hom die bal!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Hy kon meer toetse vir bokke gespeel het as dit nie vir sy siekte was nie maar alles gebeur met ‘n rede. Hy was ‘n merkwaardige speler! Hy gaan nog groter werk doen… hy is ‘n christelike leier!!!

vrikie ·

Hy sou meer impak gemaak het as vleul,sy oorspronklike posisie

Jaco Pool ·

Pierre Spies – hy gaan oor n paar jaar bekend staan as die MAN VAN GOD wat vroeer rugby gespeel het.
Hy het nog altyd openlik oor sy geloof gepraat en die sagte reus wat hy is, gaan nog diep spore trap in SUID AFRIKA.
Reeds voor sy roem en wat hy bereik het as rugbyspeler, het hy GOD geloof en prys en ek moet bieg ek is werklik opgewonde om sy lewe nou te volg.
GODSDIENS het eindfluitjie wat blaas nie, nou kan Pierre “speel” sonder om moeg te raak en sonder ophou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.