Gee Welwitschias drie seisoene, vra nuwe breier

Lyn Jones (Foto: Verskaf)

Namibië se Welwitschias gaan dinkrugby speel en het drie seisoene nodig om met die sterker spanne in die Supersport-uitdaagreeks te kan saamgesels.

Só het die span se nuwe afrigter, Lyn Jones, onder meer op navraag aan Pale Toe! gesê. Dié internasionaal gerekende afrigter, het in November die leisels by die Welwitschias oorgevat.

Jones, wat Wallis in 1993 in vyf toetse as speelkantflank verteenwoordig het, het onder meer die Walliese streekspanne Ospreys (Swansea) en Newport Gwent Dragons afgerig in die 22 jaar dat hy as breier bedrywig is.

Jones sê al die spelers wat hy dusver onder die oog gehad het, is vaardig op die aanval en is op die spel ingestel.

“Wat skort en ingedril moet word, is die tegniek om beseringsrisiko te vermy, groter doeltreffendheid in kontaksituasies en die kuns om speelruimte te skep.

“Dis waarom dit drie seisoene sal duur voor die topspanne gedaag kan word.”

Hy beplan ʼn speelstyl wat op besluitneming geskoei is, “ongestruktureerd, denkend, intelligent, met ʼn positiewe voordeellynplan”.

Jones beoog om ʼn suksesvolle span te skep deur individue beter te ontwikkel.

Sterker spelersbasis

Wat vanjaar betref, is sy doelwit om die spelers te leer hoe om die beroepspel te benader, hoe om te oefen, hoe om na hulself om te sien, wat nodig is om suksesvol te wees en die opofferings wat dit verg.

“[Namibië] werk daaraan om ʼn sterker basis te skep waaruit werklik goed afgerigte spelers vir Rugbywêreldbeker 2019 gekies kan word.”

Hy sê verskeie van die land se toetsspelers sal vir die Supersportreeks beskikbaar wees, maar net vier het in meer as 20 toetse gespeel.

“Darryl de la Harpe op buitesenter beïndruk as speler en as mens. Eugene Jantjies sal  die span uit die skrumskakelposisie aanvoer. Theuns Kotzé en Rohan Kitshoff het albei ervaring oorsee opgedoen en is staatmakers in die nasionale span,” het die Wallieser gesê.

“Verskeie spelers, veral by die akademie, het my geïmponeer. As ʼn mens goed genoeg is, is hy oud genoeg.

“Daar bestaan ʼn groot vrees vir die Supersport-uitdaging. [Die Namibiers] moet tot die besef gebring word dat dit bloot nog ʼn reeks is – dat die hoëprofielspanne uit mense saamgestel is wat ewe vatbaar vir druk is.”

Jones sê daar bestaan ʼn groot hartstog vir die spel in Namibië en daar is baie goeie mense.

“Mense raak soms in hul emosies verstrik wanneer hulle menings lug en besluite neem, eerder as om suiwer feitlik te werk te gaan. Die belangrikste kwessie waarmee elkeen moet handel, is om die speler eerste te plaas.”

Hy verwag om die Supersport-groep aanstaande naweek aan te kondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.