Geel kaarte kos WP 24 punte

Michael Claassen – puik taktiese spel deur die Sharks-skrumskakel. (Foto: GB Jordaan)

Kimberley is delwerswêreld, en die Westelike Provinsie se Curriebekerspan is nie Woensdag soontoe om die onderspit te delf nie.

Dis egter presies wat hul deel was, nadat twee geel kaarte hulle 24 punte gekos het.

Tydens Dewaldt Duvenhage (skrumskakel) se afwesigheid in die eerste helfte is ʼn verdoelde drie aangeteken; en tydens SP Marais (heelagter) s’n in die tweede helfte het Griekwas twee doele en ʼn strafdoel op die telbord geplaas.

Die uiteinde was ʼn goeie sege van 44-34 vir die buiteperd.

Die geel gras, stofkolle en klipharde veld in Kimberley het die ouer garde sommer heimweë laat kry na die dae van die ou De Beers-stadion.

Teenstanders het die veld destyds gevrees, en dit moes Woensdag nogal ʼn skok vir die Westelike Provinsie, gewoond aan die malse Nuweland, ingehou het.

Griekwas was rustyd met 17-15 voor nadat die telling lank 17-3 in sy guns was. Die WP het goed terruggeveg, maar kon nie die kaarte se skade te bowe kom nie.

Albei spanne het met elke bal gehardloop, en Griekwas het een keer van agter sy eie pale gaan druk.

Die tuisspan het in die tweede helfte besit oorheers en sy kanse aangegryp. Sy lynstane kort egter slypwerk, en al was sy duikslae goed, skiet sy verdedigingspatroon te kort, en is daar te veel gapings gelaat.

Die wenspan se regtervleuel, Ederies Arendse, was die beste speler op die veld. Hy is ʼn groot kêrel wat sterk hardloop.

Teleurstelling

♦ Wat die uitstalwedstryd van die dag moes wees, het klaaglik as skouspel misluk toe die Sharks die Blou Bulle in ʼn foutbesaaide getjommel op Loftus Versfeld met 28-20 geklop het (rustyd 13-10).

Die wenspan het sy kanse benut; die Bulle het hulle s’n vermors, en die lynstane was die Bloues se ondergang. Hulle het ʼn slag of wat goed geskrum, maar wanneer dit saak gemaak het, het die Sharks hulle gestamp. Die tuisspan het ook te veel omkeerbesit met swak beheer in die losskrums weggegee.

Michael Claassens, die besoekers se Springbokskrumskakel, se taktiese spel het beïndruk; Garth April, hul heelagter, was goed, hoewel sy skopwerk pale toe maar eina was; en die Bulle se senter Burger Odendaal was mooi op dreef.

Jy gaan dié keer nêrens nie, laat dié twee Cheetahs die Pumas-stut Kwezi Mona verstaan. (Foto: Dirk Kotzé/Steval Pumas)

Generaalsrol

Die besoekers se sege plaas hulle nou tweede ná die Cheetahs op die punteleer.

In Nelspruit het die Pumas in die tweede helfte sterk teruggeveg, maar hulle kon nie die Cheetahs se rustydvoorsprong van 38-10 inhaal nie.

Shaun Venter, die Vrystaters se skrumskakel, het ʼn generaalsrol in drie van die span se drieë gespeel; en Malcolm Jaer (Cheetahs) en Khwezi Mona (Pumas) het elk twee keer gaan druk.

Die verdedigende kampioen het uiteindelik met 45-34 gewen, om ná drie wedstryde steeds onoorwonne te wees.

Die puntemakers –

Griekwas 44 (17) – Drieë: Liam Hendricks, Ederies Arendse, Renier Botha, Tiaan Dorfling, Wendal Wehr. Doelskoppe: André Swarts (5). Strafdoele: André Swarts, George Whitehead (2).

WP 34 (15) – Drieë: Kurt Coleman, Nizaam Carr, Bjorn Basson, Seabelo Senatla, SP Marais. Doelskoppe: Kurt Coleman (2), Damian Willemse. Strafdoel: Kurt Coleman.

Blou Bulle 20 (10) – Drieë: Burger Odendaal, Ruben van Heerden. Doelskoppe: Tony Jantjies (2). Strafdoele: Tony Jantjies (2).

Sharks 28 (13) – Drieë: S’bu Nkosi, Franco Marais, Lukhanyo Am, Garth April. Doelskop: Garth April. Strafdoele: Garth April (2).

Pumas 34 (10) – Drieë: Ruwellyn Isbell, Jerome Pretorius, Frankie Herne, Khwezi Mona (2). Doelskoppe: Justin van Staden (3). Strafdoel: Justin van Staden.

Cheetahs 45 (38) – Drieë: Reniel Hugo, Neill Jordaan, Jacques du Toit, Makazola Mapimpi, Ryno Benjamin, Malcolm Jaer (2). Doelskoppe: Neil Marais (3), Clayton Blommetjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.