Geel kaarte vir twee Springbokke in Frankryk

Bismarck du Plessis – drie. (Foto: YouTube)

Twee Springbokke is Sondag in ʼn kragmeting in die Franse Top 14-liga met geel kaarte van die veld gestuur.

Bryan Habana, vleuel van Toulon, en Heinke van der Merwe, stut van Stade Français, is op dié wyse in die wedstryd tussen hul spanne gedissiplineer.

Stade het die botsing met 17-11 gewen.

♦ Die Springbok-agterspeler Frans Steyn het agt punte vir Montpellier teen Brive met ʼn doelskop en twee strafdoele behaal, en nog ʼn Bok, die haker Bismarck du Plessis, het ʼn drie gedruk.

Die gewese Cheetahs-losskakel Willie du Plessis het ʼn doelskop vir Montpellier bygedra.

Nog ʼn spanmaat, Paul Willemse, ʼn gewese slot van die Bulls, het hom ʼn geel kaart op die hals gehaal.

Brive het op die ou end die wedstryd met 28-25 gewen.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Springbok-haker Schalk Brits en die gewese Sharks-senter Brad Barritt, wat toetsrugby vir Engeland gespeel het, elk ʼn drie vir Saracens teen Bath gedruk.

Sarries het ʼn wegholsege van 53-10 behaal.

Juandré Kleynhans – drie (Foto: Twitter)

Spaanse Liga van Eer

♦ Die gewese Vrystater Noël Marx het Sondag 13 punte vir Barcelona teen Ciencias Fundación Cajasol aangeteken.

Hy het ʼn drie gedruk, een verdoel en met twee strafdoele geslaag.
Barcelona het die kragmeting met 33-20 gewen.

♦ Hansie Graaff, ʼn gewese losskakel van die Griffons en die Suidwestelike Distrikte, het 12 punte vir Silverstrom El Salvador teen UE Santboiana op die telbord geplaas.

Sy drie, twee doelskoppe en ʼn strafdoel het El Salvador in staat gestel om met 22-13 te wen.

♦ Juandré Kleynhans (heelagter) het ʼn drie vir Getxo Artea RT teen Hernani CRE gedruk en hom gehelp om met 26-22 te wen.

Hy het o.21-rugby vir die Griffons gespeel, sewesrugby vir die Pumas, en klubrugby vir Bothaville in die Noord-Vrystaatse Sandveldliga. Hy sal vanjaar vir Sasol van Secunda in die Pumas-liga speel.

Kleynhans, wat onlangs eers by Glexo ingeval het, het ʼn week of wat gelede 19 punte vir hy span teen El Salvador aangeteken.

♦ Die gewese Lions-speler JW Bell het ʼn doelskop tot VRAC Quesos Entrepinares se wegholoorwinning van 56-14 oor Senor Independiente bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie ·

Al weer twee Blou Bulle wat geel kaarte gekry het. Dit is after-all waar hulle hul rugby en dissipline geleer het.

Anton ·

Bulle ?? Heinke was nog nooit een nie en Bryan se rugby is by die Leeus geleer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.