Geen advertensie vir Curriebeker-rugby

Vrydag se Curriebeker-wedstryd tussen die Pumas en die Goue Leeus in Nelspruit was allermins ʼn advertensie vir wat veronderstel is om Suid-Afrika se spogreeks te wees.

Dit was maar weer die vervelige verhaal van hedendaagse Suid-Afrikaanse rugby: swak hanteerwerk, swak afronding, swak dissipline. Swak, swak, swak.

Die tweede helfte het vanweë ʼn donderstorm en weerlig laat begin, maar die getjommel het reeds in die eerste helfte begin, en ná rustyd eenvoudig voortgeduur.

Daar was hier en daar ʼn opflikkering, ja, maar aan skouspel het die wedstryd in die laaste rondomtalie-ronde van die reeks mank gegaan.

Die Leeus het weliswaar die kragmeting met 33-21 gewen, maar het nooit na ʼn moontlike Curriebeker-kampioen gelyk nie. Hulle het vyf drieë teen drie gedruk om die eerste keer sedert 2015 in Nelspruit te wen.

Die eerste helfte het baie gelykop verloop, met albei spanne wat soms lekker rugby gespeel het. Die Leeus was net-net beter daaraan toe, en het rustyd met 21-14 voorgeloop.

Die besoekers het feitlik elke keer met die bal probeer hardloop, en die twee Springbokke Lionel Mapoe en Courtnall Skosan het agterlangs uitgeblink.

Die tweede helfte is in ʼn groot mate deur die Leeus oorheers, maar te veel spelers wou te dikwels hul eie ding doen.

Met ʼn rolmaaldrie in elke helfte asook hul beter afronding voorlangs was die Leeus die Pumas ʼn kortkop voor. Laasgenoemde is in die tweede helfte baie vir oortredings gestraf. Ondanks Marnus Schoeman se teenwoordigheid het die Leeus die stryd om die losbal oorheers.

Eerste Liga

Wat die Eerste Liga betref, lyk dit of die Valke onstuitbaar op pad na die titel is, selfs al moet hulle die Suidwestelike Distrikte in die eindstryd in George gaan aandurf.

Dié twee spanne het Vrydag se halfeindstryde gewen.

Die Valke het die Luiperds in Kemptonpark verpletter in ʼn ommeswaai soos selde op die rugbyveld gesien word.

Die besoekers was ná 26 minute met 16-0 voor, teen rustyd met 16-12, en twee minute na die blaaskans met 19-12.

Die eindtelling? Valke 59, Luiperds 19.

In George het die Arende op hul beurt die verdedigende kampioen, die Griffons, met 22-6 uitgeskakel.

Die tuisspan was rustyd met 9-6 voor.

Die puntemakers –

Pumas 21 (14) – Drieë: Devon Williams, Francois Kleinhans, Ryan Nell. Doelskoppe: Chris Smith, Kobus Marais (2).

Goue Leeus 33 (21) – Drieë: Lionel Mapoe, Corné Fourie (2), Courtnall Skosan (2). Doelskoppe: Elton Jantjies (4).

Valke 59 (12) – Nie beskikbaar nie.

Luiperds 19 (16) – Drie: Lingelo Gosa. Doelskop: Schalk Hugo. Strafdoele: Schalk Hugo (3). Skepdoel: Schalk Hugo.

SWD 22 (9) – Nie beskikbaar nie.

Griffons 6 (3) – Nie beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Daar is ERNSTIG fout met die Pumas se afrigting. Of sal ek se tekort aan afrigting

Wollie ·

Hoe so.. al die jare het hulle altyd min of meer onder geeindig aan liga, maar is sterker as die onderste liga spanne in promosie/relegasie wedstryde.. maar het seker ook net soveel geld vir spelers, dieselfde storie vir griquas.. dalk vroeerjare, maar dessdae is dit die norm dat leeus, wp, haaie en bulle die top 4 plekke maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.