Geen keer aan Sharks ná donderweer

Curwin Bosch, speler van die wedstryd (Foto: Youtube)

Daar was Vrydag geen keer aan die Sharks nie nadat die Curriebekerwedstryd teen die Goue Leeus in Durban weens dreigende donderweer onderbreek is.

Soos verlede week het dit weer met rukke hard op Kingspark gereën.

Die Sharks was reeds met 11-0 voor, toe skeidsregter Stuart Berry ná 19 minute die donderweerpouse verklaar het, maar die Leeus het gelyk of hulle hul voete begin vind.

Met die hervatting 15 minute later het die Sharks egter die wedstryd oorheers, en was met 24-3 voor toe die Leeus in die laaste minuut gaan druk het om die telling 24-10 te maak.

Die wenspan was eenvoudig beter.

Die Leeus het te veel foute begaan, was nie so afgerond nie, en het as span ietwat ontwrig voorgekom. Hulle kon hoegenaamd geen kontinuïteit kry nie, en goeie opbougeleenthede is dikwels deur hanteerfoute verkwis.

Die Johannesburgse span lyk nie na ʼn moontlike Curriebekerwenner nie, selfs al sou hy na die eindstryd deurdring.

Tussen die Natallers was Curwin Bosch (die speler van die wedstryd) en Garth April puik, en Michael Claassens het agter die skrum gewys wat natweer-ondervinding kan beteken.

Die puntemakers –

Sharks 24 (10) – Drieë: Thomas du Toit, Odwa Ndungane. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Curwin Bosch. Skepdoel: Curwin Bosch.

Goue Leeus 10 (0) – Drie: Anthony Volmink. Doelskop: Jaco van der Walt. Strafdoel: Jaco van der Walt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.