Geen motivering vir gelapte Griekwas

CurriebekerSaterdag se laaste ronde ligawedstryd in die Curriebekertoernooi tussen die Leeus en Griekwas is duidelik nie ‘n groot prioriteit vir die Poubloues se bestuur in Kimberley nie.

Om top spelers ruskans te gee voor die taai promosie/relegasiewedstryde wat vir hulle teen die Pumas voorlê, het Pote Human en sy bestuur besluit om verskeie topspelers te laat rus vir die wedstryd op Ellispark in Johannesburg.

Hoewel dit beslis vir die Leeus belangrik is om dié wedstryd te wen, is dit vir die manne van Kimberley ‘n stryd van akademiese belang omdat hul lot reeds bepaal is. Wen of verloor, hulle sal laaste op die puntelys eindig in vanjaar se Premierliga

Manne soos die kaptein, Ryno Barnes, stut Steph Roberts, flank Marnus Schoeman, skrumskakel Marnus Hugo, losskakel Francois Brummer, senter Howard Mnisi en die Springbokagterspeler Willie le Roux kry almal ‘n ruskans voor die twee wedstryde teen die Pumas.

Die vaskop voorryman Lourens Adriaanse is wel in die span opgeneem, hoewel hy ook sedert die begin van September deel was van die Springbokkamp. Die rede vir sy insluiting is ooglopend om aan hom broodnodige speeltyd te gun, aangesien hy by die Bokke hoofsaaklik duiksakke vasgehou het. Hy word ook met die kapteinskap opgesaal.

Hoewel dit nie in die aard van Griekwas se tradisie is om te gaan lê of om vooraf op te gee nie, is dit egter te betwyfel of die Poubloues enige kans het om ‘n groot opskudding te veroorsaak en die Leeus te klop. Behalwe vir ‘n speler soos Adriaanse, wat graag ‘n goeie wedstryd sal wil speel om sy naam in die Springbokkeurders se agterkoppe te hou, is daar bittermin ander redes waarom die res van die span gemotiveerd op die veld sal draf.

Die Leeus, daarenteen, sal beslis hoop om nog in die derde plek op die puntelys te eindig, aangesien daar altyd die kans sal wees dat hulle nog ‘n eindstryd kan aanbied as die spanne wat derde en vierde op die puntelys eindig dalk albei die halfeindrondtes wen, soos in 2009 gebeur het.

Johann Ackermann het ook ‘n paar veranderings gemaak. Die Leeus sal met ‘n nuwe voorry opdraf. Julian Redelinghuys is weer nadergetrek om op vaskop te sak, terwyl Willie Wepener en Jacques van Rooyen ook weer in die beginspan is.

Bees Roux is ook terug in die 22-tal en hy sal op die bank sit om albei die stutposisies as reserwe te dek.

Ná sy baie bevredigende en langverwagte debuut vir die Springbokke is die slot Franco van der Merwe ook weer terug in die span.

Ackermann het effens verras deur die veelsydige Andries Coetzee op binnesenter te kies. Dis die een posisie waar die Leeus ‘n krisis beleef nadat Dylan Des Fountain, wat reeds vir Alwyn Hollenbach ingestaan het, ook verlede week beseer is. Coetzee is ‘n baie talentvolle speler en ‘n sterk hardloper, wat dalk net ‘n reusesukses in dié spesialis posisie kan wees.

Die Blou Bulle het twee weke gelede gewys dat Griekwas baie kwesbaar kan wees as die spel teen hulle gerek word. Die Leeus speel al die heel jaar daardie soort rugby en toeskouers wat die laatmiddagsonnetjie wil trotseer en op die tradisionele tydgleuf om 15:00 Ellispark toe wil gaan, behoort op sprankelrugby getrakteer te word.

Verwag veral heelwat opwinding en baie drieë in die tweede helfte, wanneer die groter voorspelers in die gelapte span van die Poubloues begin moeg raak.

Leeus: Chrysander Botha, Deon Helberg, Lionel Mapoe, Andries Coetzee, Anthony Volmink, Marnitz Boshoff, Michael Bondesio, Warren Whiteley, Derick Minnie (kaptein), Warwick Tecklenburg, Franco van der Merwe, Chris van Zyl, Julian Redelinghuys, Willie Wepener, Jacques van Rooyen. Plaasvervangers: Robbie Coetzee, Bees Roux, Lambert Groenewald, Willie Britz, Ross Cronjé Lionel Cronjé, Kobus de Kock

Griekwas: Gouws Prinsloo, Luzuko Vulindlu, Jean Stemmet, Johnathan Francke, Rocco Jansen, Du Randt Gerber, Jacques Coetzee, Leon Karemaker, Jaco Nepgen, RJ Liebenberg, Rory Arnold, Rynhard Landman, Lourens Adriaanse (kaptein), Matthew Dobson, Janro van Niekerk. Plaasvervangers: Simon Westraadt, Brummer Badenhorst, Dalton Davis, Patrick O’Brien, Enrico Acker, JP Nel, Logan Basson.

Datum: Saterdag 12 Oktober

Stadion: Ellispark, Johannesburg

Afskoptyd: 15.00

Skeidsregter: Stephan Geldenhuys

Assistentskeidsregters: Jaco Pretorius, Sieg van Staden

TV-skeidsregter: Johan Greeff

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.