Geen plek vir dooie hout in Bokspan nie

Damian de Allende (Foto: thestormers.com)

Damian de Allende (Foto: thestormers.com)

Soos baie afrigters voor hom, het Heyneke Meyer in die strik getrap met sy spankeuse teen die Poemas in Salta en daarom sal hy die snoeiskêer diep moet inlê vir Saterdag se toets teen die Wallabies.

Juan Smith, een van die ysters van Bok-rugby, moes nie gespeel het nie. Dit was `n sprokiesverhaal, `n speler wie se looopbaan aan `n draadjie gehang het, maar wat sodanig herstel het dat hy weer die Groen-en-Goud oor die kop kon trek.

Maar, kom ons wees eerlik, daar is nie plek vir sentiment om die keurderstafel nie. Dink maar aan die foute wat vorige afrigters ook begaan het. Gary Teichmann en André Joubert in hul afskeidwedstryde in die Curriebeker-eindstryd tussen die destydse Natal en Transvaal. Dit was nie nodig om die Leeus op te sweep nie, die razzmatazz rondom dié twee grotes se swanesang het dit gedoen.

Dink maar aan die Wallabyspan in 1995 se Wêreldbekertoernooi, dink aan Engeland se span by 2007 se Wêreldbekertoernooi. Vier jaar vantevore was albei wêreldkampioene, maar Vader Tyd  is niemand se pel nie.

Smith was net `n skaduwee van die speler wat sy teenstanders in die verlede verwoes het. Hy is gekies volgens sy peil in Frankryk, waar hy in Mei laas vir Toulon gespeel het. Dit was pynlik om hom te sien, stadig en uit voeling, half-fiks (hy het op eie stoom na Toulon teruggekeer om sy fiksheid op  skerp).

Soos Sachin Tendulkar in sy laaste paar krieketwedstryde, soos Jacques Kallis in sy laaste eendagreeks ten Sri Lanka.

Ook, die meeste van die Sharks is poegaai gespeel (Is dit Jake White se skuld? Ek vra maar net.) Bismarck du Plessis kort `n breek, Jannie du Plessis moet rus, wat is fout met Beast Mtawarira?  Die  rolle van die groentjies Handré Pollard en Damian de Allende sal ook dringend onder die loep geneem moet word.

Dit gaan nie help om dit rotasie te noem nie, die volk en die spelers  weet goed genoeg dat hulle swak gespeel het, al is hul karakter geloof. As hulle moet waai,  is dit maar daarnatoe. Dis in belang van rugby, in belang van Suid-Afrika. Ons mag mos nie teen die Wallabies verloor nie!

Is ons te negatief? Nee, want hoeveel Springbokke sou ná die getjommel in Salta die Rugbykampioenskap se Span van die Week gehaal? Net een: Jan Pickard se kleinseun (Francois Louw)  met Marcell Coetzee op die bank.

Hoeveel Poemas sou ingesluit word? Vier of vyf, met `n hele paar ander op die bank

Maar wat was die telling? Springbokke 33, Argentinië 31.

Dit maak mos nie sin nie, of is dit `n voorteken dat die waarskuligte rooi flkker?

UIt `n ander oogpunt, dis jammer dat Dok Craven en Izak van Heerden nie meer lewe nie, want as daar nou twee mense is wie se passie dit was om van Argentinië  `n wêreldkrag te maak, dan was dit hulle.

Die groot vraag is of die oplewing in Poemarugby hier is om te bly, want soos hulle in die twee wedstryde teen die Bokke gespeel het, gaan hulle binnekort tussen die Groot Vyf inskuif.

Het hulle die wiel herontdek? Nee, hulle het net die basiese beginsels van rugby toegepas.

Skrum, skrum, skrum, têkkel, têkkel, têkkel, gebruik die bal om drieë te druk en beskerm besit soos jou liefie.

Twee, drie seisoene gelede het die Pampas Vyftiental hier in die Vodacombekerreeks gespeel. Hulle was soos `n vars briesie, want hulle het die bal rondgegooi. Tien van hulle is nou die Poemagroep wat die Bokke se broeke laat bewe het.

Eina!

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.