Geen rus in Reënboogbekerreeks nie

Die Europese Reënboogbekerreeks, sonder die deelname van die Bulls, Sharks, Stormers en Lions, het die afgelope naweek begin en daar was reeds drie groot verrassings.

Die Italiaanse Benetton-span het vir die grootste skok gesorg toe hy die Glasgow Warriors met 46-19 geklop het. Dit is sulke vertonings en uitslae wat Franco Smith sy pos as die Italiaanse nasionale afrigter kan laat behou, want een van sy groot doelwitte is om diepte op klubvlak te skep, om die spel vooruit te laat gaan.

Zebre was nie so gelukkig nie en het met 18-24 teen Edinburgh verloor, hoewel daar ook tekens van oplewing was.

Munster, wat sy sterkste span vir sy kragmeting met Leinster gekies het, het die Ierse kampioenspan met 27-3 afgeransel. Leinster het die meeste van sy sterre laat rus vir volgende Saterdag se eindstryd om die Kampioenebeker, maar dit is waarvoor Munster gewag het.

Met Damian de Allende (sy spel toon byna weekliks ʼn opwaartse kurwe) en die stormram CJ Stander aan die spits het Munster oor Leinster gespoel.

Ulster, wat sonder die beseerde Marcel Coetzee klaarkom, is Vrydagaand met 26-24 deur Connacht verras.

* In die Engelse Premierliga was daar weer ʼn magdom Suid-Afrikaners wat uitgeblink het.

Francois Hougaard het drie drieë vir die Worcester Warriors teen die Sale Sharks gedruk, maar die Warriors is steeds met 35-32 geklop.

Coenie Oosthuizen en JP du Preez het vir Sale gedruk, wat sonder Faf de Klerk en die geskorsde Robert du Preez moes klaarkom.

Sale (55 punte) het tot die derde plek op die liga-puntelys opgeskuif.

Harlequins moes met net 14 spelers klaarkom nadat die oud-Boksenter André Esterhuizen die trekpas gekry het nadat hy Curtis Rona met die elmboog in die gesig getref het.

Quins het London Irish met 25-21 geklop nadat hulle baie diep moes delf.

Die Bristol Bears (66 punte), is steeds die voorloper op die puntelys, hoewel hulle deur die Exeter Chiefs (tweede met 58 punte) met 20-12 geklop is.

Gloucester, met Ruan Ackermann aan die spits met ʼn drie, het die Newcastle Falcons met 35-24 getroef.

Dan kon die Leicester Tigers nie die pas volhou teen Northampton Saints nie en is hulle met 23-18 geklop.

Dit was ʼn belangrike wedstryd vir die woelige oud-Cheetahs-flank Jasper Wiese (wat vir Leicester speel) nadat hy verneem het dat hy deur Rassie Erasmus en Jacques Nienaber na die volgende Springbok-belyningskamp genooi is.

Wiese staan in die tou om Francois Louw, wat uitgetree het, in die Bokgroep te vervang.

Erasmus-hulle het nog twee Suid-Afrikaners wat in Frankryk speel, die vurige haker Joseph Dweba (Bordeaux-Bexles) en Nicolaas Janse van Rensburg (Montpellier en oud Blou Bul-slot) ook betrek.

Dweba kan dalk Schalk Brits (uitgetree) se plek in die Bokspan inneem, terwyl Janse van Rensburg as voorsorgmaatreël betrek word vir die beseerde Lood de Jager en RG Snyman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.