Geil punte-oeste vir spelers uit SA in Frankryk

Spelers uit Suid-Afrika het ʼn paar geil punte-oeste in die jongste rondes van die Franse klubligas ingesamel.

Bo-aan die lys is Tristan Tedder wat Sondag 18 punte (ses doelskoppe en twee strafdoele) vir Bayonne teen Soyaux-Angoulême in die Pro D2-liga aangeteken het.

Sy span het die teenstanders met 60-9 opgedreun.

PJ van Lill (bankflank), ʼn toetsspeler van Namibië, het een van die wenspan se agt drieë gedruk.

Tedder (losskakel) het die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker-reeks verteenwoordig.

♦ Hansie Graaff (losskakel), wat Curriebeker-rugby vir die Griffons en Suidwestelike Distrikte gespeel het, het 14 van Massy se punte in sy sege van 29-20 oor Biarritz bygedra.

Hy het met vier strafdoele en ʼn doelskop geslaag.

♦ Die Blitsbok Shaun Adendorff (agsteman) het Aurillac se drie in sy nederlaag van 7-37 teen Beziers gedruk.

ʼn Spanmaat, AJ Coertzen (linkervleuel), voorheen van Griekwas, is met ʼn geel kaart gestraf.

♦ Die flank Vleis Engelbrecht van Montauban, voorheen van die Kings en die Bulls, het insgelyks in die koelkas beland in sy span se nederlaag van 3-15 teen Brive.

Franse Top14-liga

♦ Die Springbok Morné Steyn (losskakel) het tien punte tot Stade Français se sege van 25-20 oor Montpellier in die Franse Top14-liga bygedra.

Hy het met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

♦ Rory Kockott, ʼn gewese Superrugbyspeler van die Lions en die Sharks, het al Castres Olympique se punte in die Franse kampioen se skoknederlaag van 6-41 teen Clermont Auvergne behaal.

Die skrumskakel, wat toetsrugby vir Frankryk gespeel het, het met twee strafdoele geslaag.

♦ Die Bok Cheslin Kolbe (linkervleuel) het ʼn drie vir Toulouse gedruk in sy sege van 36-18 oor Perpignan.

Sy spanmaat, ook ʼn jaar of wat gelede by die Stormers, Rynard Elstadt (flank), was een van vyf spelers wat ʼn geel kaart op die lyf geloop het.

Pro14-liga

♦ Jarryd Sage (binnesenter) het een van die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons se drieë teen die Ierse provinsie Ulster gedruk.

Ulster het die kragmeting met 36-18 gewen.

Sage, wat voorheen vir die Kings in die Pro14-reeks gespeel het, is ʼn kleinseun van ʼn Boklegende uit die jare sestig, Doug Hopwood.

♦ Pierre Schoeman (loskopstut) het ʼn strafdoel vir die Skotse superklub Edinburgh teen die Italiaanse klub Zebre (Parma) behaal.

Zebre het die kragmeting met 34-16 gewen.

Schoeman, ʼn gewese SA o. 20-speler, het die Bulls in Superrugby verteenwoordig.

♦ Brandon Thomson (bankvleuel) het ʼn doelskop tot die Skotse superklub Glasgow Warriors se telling van 24-25 teen die Ierse provinsie Munster bygedra.

ʼn Flank van die wenspan, Chris Cloete, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Cloete het Suid-Afrika A verteenwoordig; en Thomson is ʼn gewese SA o. 20-speler, wat Superrugby vir die Stormers gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.