Geil punte-oeste vir Suid-Afrikaners in Frankryk

Hansie Graaff – boaan die lys. (Foto: Twitter)

Die afgelope naweek se Franse klubrugby het ʼn paar geil punte-oeste vir spelers uit Suid-Afrika opgelewer.

Boaan die lys is Hansie Graaff (losskakel), wat Saterdag 21 punte vir Massy in die Franse Pro D2-liga teen Beziers opgestapel het. Hy kon egter nie keer dat laasgenoemde die kragmeting met 37-26 wen nie.

Graaff het ʼn drie gedruk, en twee doelskoppe en vier strafdoele deur die pale gesool.

Sy doel in die 72ste minuut het Massy tot binne vier punte van Beziers (26-30) gebring, maar die wenspan het in die 80ste minuut vir oulaas ʼn spyker in Massy se doodkis geslaan.

Graaff het, onder meer, die Griffons en die Suidwestelike Distrikte in die Curriebeker- Eerste Liga verteenwoordig, voor hy die afgelope twee jaar in die Spaanse senior liga uitgeblink het.

♦ Danré Gerber (losskakel) het Sondag in dieselfde liga twee drieë gedruk, wat saam met ʼn doelskop en ʼn strafdoel 15 punte vir Mont de Marsan op die telbord geplaas het in sy gelykop spel van 28-28 teen Bayonne.

Die gewese Bolandse speler is die seun van die Springboklegende Danie Gerber.

Twee Namibiese toetsspelers, Torsten van Jaarsveld (haker) en PJ van Lill (agsteman), het elk ʼn drie vir Bayonne gedruk, voordat laasgenoemde hom ʼn geelkaart op die lyf geloop het.

Willie du Plessis (banklosskakel), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir Bayonne geslaag.

♦ Stade Français se Bok-skakelpaar het Saterdag 18 punte aangeteken in sy sege van 46-15 oor Perpignan, in dié se hertoetrede tot die Franse Top14-liga.

Piet van Zyl (skrumskakel) het ʼn drie gedruk, en Morné Steyn (losskakel) se vyf doelskoppe en ʼn strafdoel het 13 punte bygedra.

♦ Sondag het die Bok Johan Goosen (heelagter) twee doelskoppe en twee strafdoele (10 punte) vir Montpellier teen Castres behaal, in sy eerste wedstryd in die Fanse Top14-liga sedert sy omstrede “uittrede” in Desember 2016, in weerwil van ʼn kontrak om tot 2020 vir die Paryse klub Racing 92 te speel.

Soos in die eindstryd verlede seisoen, het Castres gewen, maar dié keer net met 25-20 nadat hy in die eindstryd met 29-13 baas was.

Die gewese Bulls-slot Paul Willemse het ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

♦ Etienne Oosthuizen (slot), wat Superrugby vir die Lions, en veral die Sharks gespeel het, het Saterdag in die Top14-reeks ʼn drie vir Lyon teen Toulouse gedruk.

Die twee spanne het met 16-16 gelykop gespeel.

♦ In die Pro D2-liga is Johan Snyman (slot), wat Curriebekerrugby vir die Sharks en die Goue Leeus (toe hulle dié beker in 2011 gewen het) gespeel het, met ʼn geelkaart gestraf, maar sy span, Brive, het darem Colomiers met 27-17 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Gelykop spel van 29-28 klink nie reg nie,eerder 28-28 0f 29-29.

Piet Ebersohn ·

Dagsê, Frans
Baie dankie vir jou opmerksaamheid. Die telling is reggestel.
Piet Ebersöhn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.