Gekweste Sharks wil weer byt

(Foto: Hansie Linde)

Die Sharks se afrigterskorps het ná hul loesing teen die Bulls besluit om nie te veel aan hul span vir die komende wedstryd teen die Stormers in Durban te karring nie.

Sikhumbuzo Notshe se besering beteken dat Thembelani Bholi saam met Henco Venter en Siya Kolisi die tuisspan se lostrio sal vorm, terwyl Marius Louw en JJ van der Mescht weer in die beginspan is.

“Dit is trotse ouens en hulle is lus vir rugby. Ten spyte van verlede week se nederlaag is daar nog baie rugby wat gespeel moet word en ons is beslis nie uit die wedloop nie,” het hul afrigter Sean Everitt gesê.

Die Sharks is veral in die tweede helfte deur die Bulls oordonder en plaasvervangers soos Manie Libbok, Werner Kock en Ruben van Heerden sal moet toesien dat iets soortgelyks nie weer teen die Stormers gebeur nie.

“Ons is steeds goed geposisioneer op die punteleer – die Bulls is byvoorbeeld net drie punte bo ons. Ons wil terugveg en die kompetisie wen.”

Die Stormers is egter nie die maklikste teenstanders om teen  ’n herlewing van stapel te stuur nie. Die Kapenaars het weer vir Pieter-Steph du Toit, Marvin Orie, Ruhan Nel en JD Schickerling terug in hul geledere.

  • Die wedstryd begin Saterdag om 13:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter en kaptein), Marius Louw (binnesenter), Yaw Penxe (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Henco Venter (agtsteman), Thembelani Bholi (flank), Siya Kolisi (flank), Reniel Hugo (slot), JJ van der Mescht (slot), Thomas du Toit (stut), Fez Mbatha (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu, Wiehahn Herbst, Ruben van Heerden, Phepsi Buthelezi, Sanele Nohamba, Manie Libbok en Werner Kok.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Sergeal Petersen (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Rikus Pretorius (binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Abner van Reenen (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Willie Engelbrecht (flank), Marvin Orie (slot), JD Schickerling (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut en kaptein). Plaasvervangers: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouche, Ernst van Rhyn, Adré Smith, Juarno Augustus, Paul de Wet, Tim Swiel, Marcel Theunissen en Dan du Plessis.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Na Saterdag teen die bulls dink ek sardentjies ipv haaie. Maar ek ondersteun enige span wat teen die WP speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.