Gelant lyk na pure Bok as hy reg bestuur word

Warrick Gelant – ongeslypte diamant. (Foto: Facebook)

Nieu-Seeland spog met Damian McKenzie en Nehe Milner-Skudder, in Ulster raak die ondersteuners elke keer opgewonde wanneer die Tongaan Charles Piutua aan die bal raak, die Wallabies spog met Israel Folau, en op Loftus Versfeld loop Warrick Gelant rond.

Draai dié man in watte toe, want hy kan in een die grotes van Springbokrugby ontwikkel.

Ja, dis groot woorde en daar is al voorheen oor ander talentvolle spelers geskryf en opgehemel.

Maar dan het hulle die kluts kwytgeraak, hul loopbane is deur beserings geknou en van hulle het oor die hoë hekkies van beroepsrugby gestruikel.

Net soos McKenzie, Milner-Skudder en Piutau-hulle, is Gelant ook een van daardie spelers met uitsondelike talent, vaart en en vaardighede, wat die toeskouers na wedstryde toe lok.

Wanneer hulle aan die bal raak, weet jy dat iets gaan gebeur. Dis of dié kant of daardie kant toe met hul vaart, lyfswaaie, systappe en oog vir ‘n gaping.

HO de Villiers was so, só ook Gysie Pienaar en ʼn jong Willie le Roux.

Dis natuurlike en ongekunstelde talent, wat nie onderdruk moet word nie, want sulke spelers mag nie in ʼn blik gedruk word nie.

Ja, hulle sal foute begaan, ja, hulle sal soms te veel op eie houtjie probeer doen en ja, hul hantering en oordeelsvermoë sal hulle soms in die steek laat. Maar los hulle uit.

Gelant behoort ʼn sekere keuse vir die Springboktoerspan te wees vir die komende Europese toer wat toetse teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis insluit.

Dit sal baie interessant wees om te sien hoe hy in die Noordelike Halfrond sal vaar, op nat en swaar velde. Hoe hy sal aanpas en ontwikkel en of hy ʼn spanman is.

Vir diegene wat dit nie weet nie, Gelant was van jongs af in die voorste linie. Hy het vir Suidwestelike Distrikte se o.13-span gespeel, toe vir die o.16-span, gevolg deur die Cravenweekspan waar hy op Outeniqua-hoërskool in George op skool was.

Hy was agt keer in die SA Skolespan sedert 2012 en het 10 keer vir die SA o.20-spanne in verskere Wêreldtoernooie gespeel voordat hy deur Tukkies en die Blou Bulle opgeraap is.

Dis hier waar sy spel gedy onder die oud-Nieu-Seelander John Mitchell se hardloopatroon, wat hom toelaat om foute te begaan.

Dis hier waar die saadjie geplant word om nog jare lank vir die Bokke te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bloubul Warming ·

Met n bietjie slypwerk sal hy n baie vaardige speler maak.

Christo ·

Los hom eers by John. Hy sal na 1 jaar n superster wees mits hy besering vry bly en hard werk. En natuurlik ook sy voete op die grond hou. Hy het groot x faktor. Sy toetse kom egter nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.