Gelant trap in diep Bokspore van die verlede

Warrick Gelant – word op Nuweland geweeg. (Foto: GB Jordaan)

Suid-Afrika was deur die jare geseënd met veilige, vaardige en soms briljante heelagters, daardie spelers wat die verskil tussen wen en verloor beteken het.

Die vorige geslag en die heel ouer garde was gaande oor Gerry Brand, wat tussen 1928 en 1938 in net 16 toetse gespeel het. Met Brand in die span, het die Bokke ʼn wenpersentasie van 81% gehad, was hulle 13 keer aan die wenkant en het hulle net drie keer verloor.

My pa het altyd vertel oor hoe veilig Johnny Buchler was, wat tussen 1951 en 1956 in tien toetse gespeel het. Met hom in die Boktrui het die Bokke ʼn wenpersentasie van 90% gehad, sekerlik die hoogste nog.

ʼn Hele paar jaar later het die vlugvoetige HO de Villiers gevolg, wat net in 14 toetse tussen 1967 en 1970 gespeel het.

Hy het ʼn nuwe dimensie aan heelagterspel verleen, hy was jare voor sy tyd en was dit nie vir sy ernstige kniebeserings nie, sou hy seker baie langer vir die Springbokke gespeel het.

Gysie Pienaar het later in sy voetspore getrap. Hy het baie visie gehad, met baie goeie lyfswaaie en aftrappe. Maar Pienaar het in net 13 toetse gespeel, want hy is deur Johan Heunis uit die span gehou.

Heunis het in 14 toetse in agt jaar gespeel, was baie veilig onder die hoë bal, kon goed verdedig, was gevaarlik met sy teenaanvalle en hy het die bal kilometers ver geskop.

En toe volg André Joubert, wat my betref die keur van Springbokheelagters, die Rolls Royce, soos hy in die buiteland gedoop is.

Hy het in 34 toetse in nege jaar gespeel, insluitende vir die seëvierende span van 1995 se Wêreldbeker-toernooi, ondanks ʼn gebreekte hand.

Wie hou die rekord? Percy Montgomery, wat in ’n allemintige 102 toetse in 11 seisoene tussen 1997 en 2008 gespeel het.

Aan die begin van sy loopbaan het hy jou sooibrand gegee, maar ná 2007 se Wêreldbeker-oorwinning en 893 toetspunte … Wie kan daarteen stry?

Saterdag op Nuweland moet Warrick Gelant in hul skoene staan.

Hy is propvol talent, het ʼn baie goeie aftrap. Maar sal jy met hom oorlog toe kan gaan?

Ja, dalk steek hy nog tong vir sy kritici uit en dalk is hy saam met Willie le Roux die antwoord en oplossing vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi, want Andries Coetzee is verlede jaar in 13 toetse geweeg en toe te lig bevind.

John Mitchell ag Gelant baie hoog, Rassie Erasmus ook, maar ai …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Galant! Laat ‘n witman nou vir jou vertel: “Galant verdien die kans. Hy het talent en kan een van die bestes word sou hy reg bestuur word. Jonk, maar ‘n Porch in wording!”

bloues ·

Ek sou graag die nuwe senters en heelagter wou sien saam met Faf en Pollard. Met Jantjies as losskakel gaan nie een van die agterlyn spelers uitstaan op die aanval nie.
Dis onregverdig

nico k ·

Die Springbokke het ‘n goeie aanvallende agterlyn gekies vir Saterdag, maar nou word daar reën voorspel vir Kaapstad presies die middag as die wedstryd moet begin. Dit sal jammer wees, want die meeste van hulle het reeds die reen teen Wallis gekry, en baie sleg gespeel. Dit is bietjie onregverdig om hulle in sulke toestande te meet. Wie van julle weet hoe is Japan se reënval die tyd wat die wêreldbeker gaan plaasvind?

rollie ·

Die Bokke het van hul beste toetse in die verlede in modderbaddens gespeel. Dis glad nie ‘n verskoning nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.