Geld bly maar die geelwortel

All-Blacks-logo_1087289[1]Net soos in Suid-Afrika sit Nieu-Seeland se rugbybase ook met hul hande in die hare oor hul beste spelers wat na Frankryk en Engeland gelok word.

Die All Blacks se vaskopstut Charlie Faumuina (30) is die jongste van die All Blacks-produksielyn wat ná aanstaande jaar se Superreeks sy loopbaan in Toulouse in Frankryk sal voortsit.

Die name van Ben Smith, Israel Dagg en Aaron Cruden word ook  genoem  en daar kan niks aan gedoen word nie – nie eens die kans om nie vir die All  Blacks te speel nie.

Ja, dit help beslis dat daar ʼn vasgestelde beleid is voordat ʼn speler sy finale besluit neem. Ja, dit maak sake makliker vir die afrigter, Steve Hansen, wanneer hy en sy medekeurders  span moet kies. Ja, dit maak sake moeiliker voordat pen op papier geplaas word.

Maar kom ons wees eerlik, wanneer die geldwortel voor enige speler gewaai word, is daar na alle waarskynlikheid net een wenner.

Faumuina het 46 toetse vir die All Blacks gespeel, 34 daarvan vanaf die plaasvervangersbank. Hy was die ideale impakspeler, groot sterk en vaardig, netsoos die oud-Bok Ollie le Roux,  wat in 43 van sy 54 toetse opgestuur is en ook ʼn groot verskil gemaak het.

Faumuina sal in die omgewing van een miljoen Euro (dis sowat 1,5 miljoen Nieu-Seeland dollar oftewel R14 miljoen) verdien. Dis die waarde van ʼn plaas in Nieu-Seeland, en hul bes-betaalde speler, die All  Black-kaptein, Kieran Read,  verdien ʼn rapsie meer as een miljoen Nieu-Seelandse dollar.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het onlangs sy salarisstrukture hersien en groot aanpassings gemaak, maar dit is steeds nie genoeg om die spelers tuis te hou nie.

Geld, geld, geld bly die wagwoord. Dis immers spelers se loopbane, hul inkomste.

Die Nieu-Seelandse stuff.co.nz-webwerf het onlangs ʼn “Franse” All Black-span gekies en só het die span Nieu-Seelanders gelyk wat in Frankryk speel: Colin Slade,  Hosea Gear, Conrad Smith, Ma’a Nonu, Joe Rokocoko,  Dan Carter, Nigel Hunt, Victor Vito, Tanerua Latimer, Luke Braid, Ali Williams, Tom Donnelly, Ben Tameifuna, Hikairo Forbes, Jamie Mackintosh.

Geld bly ʼn groot probleem waarvoor daar nie eintlik ʼn oplossing is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietsepan ·

Daar is ‘n oplossing. Elke span moet soos ‘n besigheid bedryf word wat hulle eie reëls kan opstel sonder regerings inmenging. Hulle moet dan hulself verteenwoordig en nie ‘n land of volk nie. Soos wat die Amerikaners maak. Professionalisme en amateurisme kan nie gelyktydig nagestreef word nie. Het Dok Craven ons nie hierteen gewaarsku nie?

callie ·

Die All Blacks is almal na aan uittrede en maak nou vir oulaas geld. In SA loop die jong manne, die CJ Standers ens. Gaan vra hulle,hulle loop ook oor geld maar met net makliker omdat kwotas hulle buitendien gaan keer om sukses te behaal in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.