Geldmaak-wedstryd in LA kan vir Stormers boemerang

Vir die Stormers kan hulle geldmaak-wedstryd teen die Bulls in Los Angeles later in ʼn taai toffie ontaard.

Aan die ander kant lyk dit of die Bullsafrigter John Mitchell in die kol was met die ekstra opwarmwedstryd wat sy span teen die Jaguares sal speel.

Die wedstryd op 3 Februarie in LA sal aan die Stormers net twee weke bied voordat hulle op 17 Februarie op Nuweland in die heel eerste wedstryd van die nuwe Super15-reeks speel.

Net twee weke? Dit klink nog reg, totdat jy die vlug terug van LA af begin ontleed.

Los Angeles, die stad van filmsterre, lê aan die Weskus van die VSA. Die reis oor die breedte van Amerika is ʼn ekstra vyf tydsones vanaf  Washington (ook vyf, dus tien in totaal), wat die twee spanne ná die wedstryd van Wes na die Ooste toe moet oorsteek – veel meer uitputtend as weswaarts.

Die vinnigste vlug vir die 16 700 km na Suid-Afrika, via Atlanta, sal 24 uur duur.

Die totale herstel van vlugflouheid is ongeveer een dag per tydsone wat oorgesteek word.

Die Kapenaars sal vanaf hulle aankoms in Kaapstad net sowat elf dae herstelkans hê voordat hulle dan teen die Jaguares uitdraf.

Die spelers is egter heelwat fikser as die hersteltyd wat vir die gewone reisiger geld.

Bulls

Die Bulls, anders as die Stormers, het op die eerste naweek van die Superreeks ʼn loslootjie en speel eers op 24 Februarie hulle eerste Superwedstryd, tuis, teen die Hurricanes.

Drie weke van niksdoen, het Mitchell gevoel, is nie ʼn goeie ding nie. Na die wedstryd op 10 Februarie teen die Jaguares sal die Bulls nog ʼn volle twee weke hê om finaal te skaaf.

Jaguares
Net ʼn week ná hierdie Bulls/Jaguares-losmaker draf die Stormers op 17 Februarie in die Kaap teen dieselfde Argentyne in die eerste wedstryd van die nuwe Super15-reeks uit.

Dit is dus twee wedstryde in opeenvolgende weke teen taai teenstand vir die Jaguares.

Sharks

Vir die Sharks is daar ook die lekkerte van ʼn besoekie oorsee na Hongkong, waar hulle met hulle ou spanmaat Pat Lambie te doene sal kry wanneer hulle op 3 Februarie teen Racing 92 uitdraf.

Hulle speel die voorafgaande week in Polokwane teen die Bulls wat op dieselfde dag met nóg ʼn span in Johannesburg teen die Lions in ʼn opwarmwedstryd speel – een van hulle vier wedstryde saam met die kragmetings teen die Stormers in die VSA en die Jaguares tuis.

Spelersdruk

Die druk op die spelers om uit te haal in die nie-amptelike wedstryde is miskien meer gefokus op hul vertonings en fiksheid as die uithaal om te wen. Daar sal in hierdie wedstryde nie by die amptelike getal van 23 spelers per wedstrydgroep gehou word nie, en spelers sal ook ongetwyfeld in van die wedstryde afgehaal en weer teruggebring word om kombinasies te toets.

Moontlik die grootste probleem van die afrigters, en veral die fiksheidsmanne, was tot dusver om die spelers wat toetsrugby en in Japan gespeel het, eers behoorlik ekstra ruskans te gee voordat hulle so gou doenlik by die span kon inskakel. Die spanne het reeds in Desember in alle erns begin voorberei en is nou naby aan die finale afrondingsfase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.