Geldnood noop oud-Carltonwenner tot afskuiwing

TUT`n Geldkrisis het `n viermalige Carltonkampioen genoop om die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) om te haal om hom na die B-afdeling van die Carltonliga af te skuif.

Neels van Heerden, die voorsitter van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se rugbyklub, sê die BBRU het die klub se versoek aanvaar.

Die nuut ingestelde B-afdeling vervang verlede jaar se Eerste Liga en die C-afdeling die Presidentsliga.

Die eens kragtige klub wat die Blou Bulle se klubrugby in 2003-2005 oorheers het, is die jongste van die tradisionele Carltonklubs wat uit die senior liga verdwyn.

Van Heerden sê TUT kan nie vanjaar die vereiste vyf spanne in die A-liga in die veld stoot nie. Die vernaamste rede is dat hy eenvoudig nie die finansiële eise daarvoor kan dra nie.

“Die #feesmustfall– en die #insourcing/outsourcing-veldtog het die universiteitsbegroting só fel gestroop dat `n totale hersiening van alle universiteitsuitgawes aan die begin van 2016 gedoen moes word. Alle sportbedrywighede word dus erg deur besnoeiings benadeel.

“`n Verdere probleem was die onluste by die TUT se Soshanguve-kampusse. Geen onderrig kon nog in 2016 daar plaasvind nie en die TUT-rugbyklub kon nog nie behoorlik bepaal hoeveel rugbyspelers by hierdie kampusse geregistreer is of nog sal registreer nie.”

Van Heerden sê die samewerking met die Sefako Makgatho-universiteit vir Gesondheidswetenskap (SMU) het effens verligting gebring deurdat SMU se span as TUT se derde span in die Carlton-B-afdeling sal speel. TUT-studente wat by die Ga-Rankuwa-kampus studeer, kan ook by die SMU-span inskakel. Die twee kampusse is ‘n hanetree van mekaar geleë.

Hy sê TUT se Varsityskildgroep (in wese almal nog o.21) sal die kern van TUT se eerste en tweede span vorm, terwyl TUT o.20 wel aan die Carltonreeks se A-afdeling sal deelneem.

“Laasgenoemde groep spelers het die kern gevorm van die TUT o.21-span wat groot oorwinnings in die Assupolreeks oor Noordelikes (Pietersburg) en Middelburg behaal het, maar in die eindstryd teen Wits o.21 vasgeval het. Die handjievol o.21-spelers wat uit hierdie groep oorbly, sal by TUT I en TUT II inskakel,” sê Van Heerden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.