Gelykopuitslag in die Kaap!

Siya Kolisi en kie het gelykop teen die Crusaders gespeel. Foto: Stormers Facebookblad.

Die Crusaders was laas in 2013 in die Kaap. ’n Baie jong Siya Kolisi het toe ook ’n drie op Nuweland gedruk, maar die tuisspan het uiteindelik ’n naelbytstryd 19 – 14 verloor.

Vanmiddag het die Stormers egter so byna die bordjies verhang toe hulle 19 elk gelykop gespeel het teen die manne van Christchurch. Dit is die tweede keer hierdie seisoen dat ’n Suid-Afrikaanse span hul gelyke man teen die Crusaders staan: die Sharks spog met ’n weguitslag van 21 elk teen hulle.

Jean-Luc du Plessis het gewys dat hy oor senuwees van staal beskik toe hy die belangrike strafskop in die 80ste minuut van die wedstryd tussen die dwarslatte deurgejaag het. Was dié strafskop mis, sou die Stormers 19 – 16 verloor het.

Die Crusaders het drie drieë gedruk, maar dit was die skopvoet van Du Plessis, en vroeër Joshua Stander, wat die verskil tussen die twee spanne was.

Vir die besoekers was Richie Mo’unga in die kol met twee doelskoppe.

Natuurlik was daar ook ’n tikkie skeidsregterdrama toe die drie van die Crusaders se Sevu Reece in die 76ste minuut nie toegelaat is nie. Televisie-skeidsregter Marius Jonker het beslis dat ’n aangee vorentoe was, al het baie Crusaders-ondersteuners nie met dié besluit saamgestem nie.

Om die Stormers se reusepoging in perspektief te plaas – die Bulls het verlede week meer as 40 punte teen die einste gesnorde Crusaders afgestaan.

Pieter-Steph du Toit was ’n breker op flank, terwyl die res van die span nie teruggestaan het nie.

Dit was ’n goeie naweek vir Suid-Afrikaanse spanne, met nie ’n enkele span wat verloor het nie.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Siya Kolisi. Doelskop: Joshua Stander. Strafskoppe: Stander (2), Jean-Luc du Plessis (2).

Crusaders: Drieë: Matt Todd, David Havili, Braydon Ennor. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
H

Goed gedoen Stormers .

SjN

Swak besluit is geneem, hoop dit gaan julle kos.

SAM VAN STRAATEN

Die afgelope klompie jare word vleuls toegelaat om huldirekte opponent te ignoreer!Waarom en hoekom????Dan maak hulle of hulle vir die buitesenter gaan
Dis mos BOG!!!(Bang hy mis sy sy nr.1 plig)

Avokado

Marius Jonker laat nie ‘n geleentheid verbygaan om sy naam in die koerant te kry nie.

ccb

Mnr Jonker het as tv skeidsregter die verkeerse besluit geneem en so die Stormers bevoordeel. Ooglopend ‘n blatante (moedswilllige?)foutiewe beslissing.!!! As daardie bal darem vorentoe was, het die son sekerlik gestruikel en het ons ‘n reuse loadshedding gehad.