Gemengde welslae vir Cheetahs, Kings in Pro14

Die Cheetahs het sewe drieë op Bloemfontein gedruk om die Glasgow Warriors 48 – 14 te wen. Foto: Twitter.

Die Vrystaatse Cheetahs het hul Guinness Pro14-seisoen op dieselfde wyse begin as waarop hulle hul Curriebeker-veldtog afgesluit het, met ’n goeie sege oor die Glasgow Warriors op Bloemfontein.

Die Vrystaters het rustyd reeds 24 – 7 voorgeloop en het uiteindelik sewe drieë gedruk om 48 – 14 te wen.

Ruan Pienaar, wat die Vrystaters aangevoer het, het 18 van sy span se punte aangeteken, terwyl Joseph Dweba en Rhyno Smith elk twee drieë gedruk het.

Vir die Warriors – wat baie spelers aan Skotse Wêreldbeker-verpligtinge afgestaan het – het Nick Frisby en Robbie Nairn agter die Cheetahs-pale gaan kuier. Die voormalige Cravenweek-losskakel van die Pumas, Brandon Thomson, was suksesvol met sy twee doelskoppe.

Dit was die eerste keer in vyf probeerslae dat die Bloemfonteiners die Skotte kon klop.

Puntemakers:

Cheetahs: Drieë: Joseph Dweba (2), Rhyno Smith (2), Ruan Pienaar, Junior Pokomela, Sias Koen. Doelskoppe: Pienaar (5). Strafskop: Pienaar.

Glasgow Warriors: Drieë: Nick Frisby, Robbie Nairn. Doelskoppe: Brandon Thomson (2).

  • In Port Elizabeth het Robbi Kempson se Kings met vier punte teen die Cardiff Blues verloor. Die eindtelling was 31 – 27 in die manne van Wallis se guns.

Die Blues het vyf spelers in Wallis se Wêreldbeker-span, terwyl die Kings met ’n rits nuwe spelers spog.

Die tuisspan het ’n rustydvoorsprong van 13 – 5 geniet en het tot amper die 70ste minuut van die wedstryd voorgeloop, maar ’n sterk eindpoging deur Cardiff se pak voorspelers het vir twee drieë gesorg en hulle het sodoende die wedstryd onder die Kings se neuse gewen.

Die Kings het verlede seisoen meer as 700 punte in hul 21 ligawedstryde afgestaan.

  • Puntemakers:

Southern Kings: Drieë: Tienie Burger, Jacques du Toit, Andell Loubser. Doelskoppe: Demetri Catrakilis (3). Strafskoppe: Catrakilis (2).

Cardiff Blues: Drieë: Seb Davies, Liam Belcher, Matthew Morgan, Kristian Dacey, Harri Millard. Doelskoppe: Jarrod Evans (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frans C ·

Wasdie Cheetahs se oorwinning nie maar soos in die Curriebeker teen verswakte kompetisie nie? Diie Warriors het tog 16 van hul spelers aan wereldbekerspanne afgestaan.12 Aaan Skotland en 4 aan ander spanne.m

Nou Toe! ·

Is daar dan nie diepte in die klubs nie? Die ou deuntjie dat daar teen verswakte spanne gespeel word is sommer twak. Jy kan mos nie verwag dat sekere spelers altyd aan al die wedstryde moet deelneem nie. Hulle is beslis nie robotte nie en nuwe spelers verdien ook n kans. Ag nee a!

Kallie ·

Die Super Rugby unies speel ook net verswakte spanne in die Curriebeker. Daarom het die Cheetahs die beker gewen.

Ag Nee! ·

Frans,
Ek het altyd jou kommentaar ondersteun. Ongelukkig is die kommentaar wat jy nou gelewer het baie kortsigtig. Ander spelers moet ook n kans gegun word. Dit is hoekom ons rugby besig is om met rasseskrewe agteruit te gaan, weens die rede dat daar slegs n groepie spelers is wat alles moet doen. Ons het geen plan B nie. Klink vir my alles gaan net oor finansies en persoonlike egos.

Frans C ·

Vir diegene wat nie saamstem met my kommentaar nie.In die land van die blindes is eenoog koning.So is dit ook in enige sport.As jy die beste wil wees moet jy die bestes en nie die naasbestes klop nie.

Ons Curriebeker gaan agteruit omdat die gehalte van die kompetisie verswak wanneer die bestes nie deelneem nie.Wat help dit wanneer jy aan die die begin van die seisoen
soos ‘n kampioen lyk en aan die einde soos ‘n pampoen?

Kyk na die Griekwas ,hulle het met dolle vaart afgeskop maar toe beserings en die terugkeer van spelers ‘n rol begin speel val hul uit die Curriebekerbus.Dit is om die rede
dat die Sharks nou op ‘n grootskaalse inkopieveldtog gaan en links en regs die beste spelers ook van die Cheetahs opkoop.

Onthou in 2018 kwalifiseer die Cheetahs in Pro 14 maar kom teen ‘n volsterkte Scarlets
van Wales te staan en verloor 43-8.As dit nie volle verhaal vertel nie ,sal niks nie.
Moenie met oogklappe aan deur die lewe gaan nie en jou blindstaar teen sulke vertonings soos die van die Cheetahs nie of kommentators wat almal ophemel tot
wêreldgehalte spelers nie.

Uitslae in Superrugby bewys dat rugby op internasionale vlak in Suid Afrika agteruit gaan.As dit nie so was nie sou die kaste oorgeloop het van trofeë.Onthou die laaste beker is deur die Bulle in 2010 gewen en dit was ‘n bulspan wat die huidige Curriebeker
kampioen vir brekfes sou opge-eet en ‘n paar ander spanne in die middag.

Frans C ·

My kommentaar het niks met foutsoek te doen nie,maar is baseer op die realiteit van Suid Afrikaanse rugby.Die feit is dat die Cheetahs en Kings uit die Superrugby kompetisie geskop is omdat hul nie goed genoeg geag is nie.

Hulle is toe as ‘n troosprys deur SARU toegelaat om in die Pro 14 te speel,waar hul die kompetisie van 12 tot 14 spanne vergroot het.Enigiemand wat die kompetisie volg sa; weet dat dit ‘n kompetisie is wat wemel van die internasionale en nasionale spelers.
So doen 12 van die Wariors tans diens vir Skotland in die wêreldbeker.

Die Cheetahs het goed gevaar totdat hul teen die Scarlets te staan gekom het,wat weer wemel van Wales se spelers,wat tans in die wêreldbeker speel, en toe 48-8 verloor het.
Die Scarlets druk 6 drieë teen die 1 van die Cheetahs. Dit was die 1/4 finaal van die kompetisie.

Enigiemand wat die kompetisie volg sal gesien het dat daar vinnig stemme opgegaan het
om die deelname van veral die Kings aan die kompetisie te bevraagteken omdat veral die min waarde daaraan toegevoeg het.

Jy neem tog aan enige kompetisie deel met die doel om dit te wen en nie om soos die
Kings ‘n slaansak vir ander spanne te word nie.Tot die jare 1990 het Suid Afrika ‘n positiewe rekord in toetsrugby teenoor alle lande,NZ ingesluit gehad.Dit het dus meer
wedstryde teen enige land gewen as wat dit verloor het. Ons het nou slegs 36 uit
98 wedstryde teen NZ gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.