Generaal Steyn dikteer Stormers se ondergang

Foto: GB Jordaan.

’n Mens weet nie of ’n Afrikaanse sanger eendag ’n lekker sokkietreffer oor Morné Steyn se heldedade gaan aanmekaarslaan nie. Hoe dit ook al sy, die veteraan-losskakel se lof verdien om besing te word ná gisteraand se vertoning teen die Stormers op Loftus Versfeld.

Die 36-jarige speler het die horlosie teruggedraai om ’n amper foutlose vertoning te lewer. Sy taktiese skopwerk het die Kapenaars deurmekaar gemaak, hy het ’n fopaangee uit die hoed gepluk om vir Stedman Gans weg te stuur en sy stelskoppe het oudergewoonte sy teenstanders getref waar dit die seerste maak: Op die telbord.

In die proses het hy die Stormers se veel jonger Damian Willemse heeltemal oorskadu.

Foto: GB Jordaan.

Voeg daarby ’n pak voorspelers wat die spel oorheers, Gans se driedruk-flair, Ivan van Zyl se aanvallende spel en Duane Vermeulen se leierskap en jy het ’n span wat die Kapenaars met 39–6 oordonder.

Boonop het skeidsregter AJ Jacobs die spelers in die 64ste minuut van die veld gestuur: Daar was weerlig in Pretoria.

Maar die Bulls het ook vir ’n elektriese vertoning op die veld gesorg; in ’n bietjie minder as 20 spelminute het hulle vier drieë gedruk om sodoende die besoekers heeltemal weg te blits.

En laat ons nie doekies omdraai nie: Die Stormers was waarskynlik verlig toe die wedstryd uiteindelik ’n rukkie later amptelik afgelas is.

Foto: GB Jordaan.

Die Kapenaars het geen antwoorde op die Bulls se vrae gehad nie en nadat hulle verlede week in Nelspruit met ’n groot terugvegpoging in die tweede helfte vorendag gekom het om die Pumas te klop, het die Pretorianers hulle net pleinweg nie toegelaat om hul voete in die wedstryd te vind nie.

Jake White kan tevrede voel. Gisteraand was ongetwyfeld ’n kragvertoning deur sy span.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar, Stedman Gans (2), Ivan van Zyl en Ruan Nortjé. Doelskoppe: Morné Steyn (5). Strafskoppe: Steyn (2).

Stormers: Strafskoppe: Damian Willemse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

“Morras skop hom oor want Morras mis nie”…..netjies Bulle dis ‘n ordentlike drag slae in net 60 min. Dink die stompies speel ACDC se “Thunderstruck” op die bussie vanoggend.

Frans

Al wat ‘n mens kan sê is ‘Onweer red Stormers van groter pak”.Van die veelgeroemde Stormerspak het net mooi niks gekom nie en lyk dit met Eben Etzebeth se vertrek is die vuur van Stormerspak geblus.
Die wedstryd wys maar net weer dat wedstryde voorlangs gewen word.

Kerneels

Wonder ek nou net wat van die “nulle” en “koppie-na-een-wen”-manne geword…?

Androclus

Die oorwinning is soet.Pragtig Bulle.

Simon

Inderdaad ‘n elektriese vertoning deur die Bulle op Fort Loftus (ja , Willem Strauss, president van die unie herdoop die stadion weer só). John Dobson se gemompel oor lyftaal, ingesteldheid en dies meer het nóg sin, nog saak gemaak. Feits is, die Stormers sal, gebasseer op hul vertonings teen die Pumas voorverelde naweek en die Bulls, Saterdag moet skrik. Wakkerskrik, en die gehate “back to the drawingboard”-ding doen. Gou.