Geo-politieke indeling vir rugby drogredenasie

Gauteng (sonder die Blou Bul) – Suid-Afrika se toekomstige rugbykampioen?

Gauteng (sonder die Blou Bul) – Suid-Afrika se toekomstige rugbykampioen?

Om Suid-Afrika se rugbybonde langs geo-politieke grense te wil herskik, is niks meer of niks minder nie as `n drogredenasie.

Die skade wat Allister Coetzee aan die beeld van die Springbok aangerig het, is `n vulletjie vergeleke met die gevolge wat só iets vir SA rugby kan inhou.

Rugby – of enige ander sport of menslike bedrywigheid – skik dit natuurlikerwys na ekonomiese grense.

Dit eers daar gelaat, kan `n mens vinnig die kwartfinaliste van die afgelope vier reekse om die oop klubs se Goue Beker (vroeër die Gemeenskapsbeker) ontleed om `n aanduiding van rugbykrag op voetsoolvlak te kry.

Van die 32 klubs wat die kwarteindronde gehaal het, was tien uit die Wes-Kaap (sowat 31%), nege uit Gauteng (sowat 28%), vyf uit die Oos-Kaap (sowat 16%), en vier elk uit KwaZulu-Natal en Noordwes (12,5%). In laasgenoemde geval was dit elke keer Rustenburg Impala.

Vier geo-politieke provinsies, Limpopo, Mpumalanga, Noord-Kaap en Vrystaat, kon in vier jaar nie `n enkele kwartfinalis oplewer nie.

Vrystaat is `n uitsondering omdat sy rugbykrag in Bloemfontein se twee universiteite lê, maar die oop klubs is die krag van klubrugby in die ander drie.

Kan enigiemand met nugtere denke voorsien dat hierdie bonde in `n voorsiene nuwe bedeling met Gauteng met sy gekombineerde Goue Leeus en Blou Bulle en die Valke op die koop toe sal kan meeding?

Gaan die Valke se Sasolburg dan terugval Vrystaat toe?

Limpopo is tans onder die Blou Bulle se vlerk en sy topklubliga word op reserweligavlak aangeslaan. Hoe sal hy teen die onteenseglike superspan van Gauteng vaar?

Ekonomie skryf voor

Sedert die dae her het Suid-Afrika se rugbykrag die ekonomiese ontwikkeling van die subkontinent (dit het eers in 1910 `n politieke eenheid geword) gevolg. Dit het in die Kaapstadse handelsentrum ontstaan en die Westelike Provinsie was die aanvanklike rugbykrag. Daarvandaan het dit na Kimberly en die Diamantvelde verskuif en die opkoms van Griekwaland-Wes verseker; en uiteindelik na Johannesburg en die Randse Goudvelde waar Transvaal gefloreer het. Ná 1910 het die sentralisering van die staatsdiens en die magte (veral die weermag en die polisie) in die administratiewe hoofstad tot die opkoms van Pretoria en Noord-Transvaal gelei.

Rugby in die Oostelike Provinsie en Natal, wat grootliks deur die soldate van die Britse Ryk gevestig is, het eers as krag na vore getree toe dié gebiede ekonomies sterker ontwikkel het. Die OP kon nooit werklik op topvlak saampraat nie en kon, byvoorbeeld, nog nie die Curriebeker wen nie.

Altyddurende wanbalans

Op grond van bogenoemde lyk dit dus of rugby op geo-politieke grense geskoei op `n altyddurende tweestryd tussen die Wes-Kaap en Gauteng afstuur. Hulle verteenwoordig saam 60% van die rugbykrag op voetsoolvlak.

Watter van die ander geo-politieke provinsies gaan hoegenaamd met hulle kan meeding?

Daar kan geredeneer word dat die klubtoneel in die beroepsera geen invloed op die krag van die beroepspanne het nie, maar die breër opset kan nie uit die oog verloor word nie.

Watter span, beroeps- of amateur, gaan oorleef waar die welvaart ontbreek om betaal-TV lewensvatbaar te maak; om beduidende inkomste uit die verkope van kaartjies, replikatruie en ander gedenkwaardighede te verdien; en om genoegsaam en volhoubaar borgskappe te werf?

Vangplek

Die vangplek kom daarby in dat ondanks `n verbasend algemene opvatting dat rugby se geldkoffers oorloop, dit allermins die geval is. Die WP-ramp is die jonste bewys daarvan. Grens, die Suidwestelike Distrikte en die OP ervaar dit al lankal.

Die regering wil graag – om redes wat niks met rugby uit te waai het nie – sport binne die grense van die politieke provinsies herskik.

Die Oos-Kaapse regering het die afgelope paar jaar reeds die voorbeeld gestel met die borg van `n superreeks waaraan klubs van die Grens en die OP deelneem.

Arm rugbybonde hoop waarskynlik op geld uit die staatskas om hul geldkrisisse te help oplos; en die spreekwoord lui nie verniet dat `n benoude kat benoude spronge maak nie. Dit kan daartoe lei dat Suid-Afrika se rugbytoekoms vir `n pot lensiesop verkoop word.

Bul, Leeu geoffer?

Wil ons werklik die legendes van die Blou Bul en die Goue Leeu op hierdie politieke altaar offer? Wil ons `n verskrompelde kransie rooidisas op die graf van `n eens trotse WP sien?

Dié gekoesterde simbole kan mos nie voortbestaan as die bonde in geo-politieke verband een word nie.

Die herskikking van rugby binne geo-politieke provinsiale grense hou eenvoudig nie nie met die werklikheid verband nie.

Is Suid-Afrika se rugbybase sterk genoeg om die regte besluit in belang van die spel te neem? Ons sal moet sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.