Gerald Bosch het saadjie van om-die-hoek-skoppe geplant

Ter illustrasie.

Gerald Bosch kan as die vader van om-die-hoek-stelskoppe in Suid-Afrika beskou word.

In baie van ons en ons pa’s se grootwordjare was die norm om die bal met die toon van ʼn harde rugbystewel te tref.

Hoe dan anders, want die destydse rugbyskoene was mos só ontwerp.

Daar is foto’s van Gerry Brand en Benny Osler hoe Okey Geffin (ʼn Springbokstut) in 1949 32 van die Bokke se 47 punte teen die All Blacks aangeteken het om die toetsreeks met 4-0 te wen.

Ander met-die-toonskoppers soos Hansie Brewis, Dick Lockyear, Tiny Naude, Frik du Preez, Keith Oxlee, Piet Visagie en Ian MaCullum het gekom en gegaan.

En toe bars die damwal toe Bosch, ʼn Engelsprekende losskakel van Vereeniging, op die toneel verskyn.

Almal het hulle destyds vergaap hoe hy die bal sokkerstyl geskop het, hoe hy eers ʼn tree of twee agteruit en dan skuins gegee het voordat hy die bal sekuur getref het.

Hy was die blouoogseun van die destydse Transvaalse rugbyspan. Hy het in 1972 die Rooibontes tot oorwinning in die Curriebeker-eindstryd teen Oos-Transvaal gevoer.

Hy was in ʼn Vereeniging-span wat Transvaal se Pirates Groot-uitdaagbeker-reeks gewen het toe hulle Diggers, gelaai met Springbokke en provinsiale spelers, geklop het.

Hy het sy Springbokdebuut in 1974 teen die Britse Leeus op Loftus Versfeld gemaak, maar moes tot 1976 teen die All Blacks wag voordat hy op almal se lippe was toe hy 55 van die Bokke se 89 punte aangeteken het.

Die Bokke het die reeks met 3-1 gewen en toe wou almal so skop.

Dit was ʼn gesukkel, totdat Naas Botha dit vervolmaak het.

Koning Naas, wat in 28 toetse 312 punte aangeteken het, het ook 2 511 punte vir Noord-Transvaal in net 179 wedstryde aangeteken en ʼn verdere  1 731 punte vir die Italiaanse span Rovigo in net 119 wedstryde … ʼn ongehoorde 4 554 punte in net 326 wedstryde!

’n Hele paar jaar gelede het die plaaslike media teen die oud-Bokke “gespeel”. Ek het een keer aangelê pale toe en die bal kaalvoet met die toon gesool, met Joel Stransky wat geskater het van die lag.

Maar in die sewentigerjare was dit andersom, toe almal die bal met die toon getref het.

Toe het almal gelag vir die soutie van Vereeniging wat die bal sokkerstyl wou skop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die stelskophouers waarop die bal geplaas word maak dit makliker,asook dat die bal van ‘n agtpand van egte leer na ‘n vierpand sintetiese materiaal verander het.

‘n Natleerbal was ‘n nagmerrie en was soos ‘n stuk seep. Met die hak is ‘n gaatjie in die oppervlakte gemaak word of genoeg droë gras om ‘n hopie te maak en die bal op te plaas.

In 1955 misluk Jack van der Schyff met ‘n vervyfskop in die eerste toets teen die Britse Leeus wat die Bokke 22-23 verloor/’n Suksesvolle vervyfskop sou dit 24-23 vir die Bokke gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.