Gertjie Brynard en die 1965-toer na Nieu-Seeland

Gertjie Brynard (Argieffoto)

Ek het jare lank ʼn swart-en-wit-foto in my rugbyplakboek gehad. Dit was van Gertjie Brynard wat oor en tussen twee All Blacks duik om sy tweede drie in die derde toetswedstryd in 1965 op Lancasterpark in Christchurch te druk.

Dit was van die mooiste foto’s van ʼn rampspoedige toer, waarin die Bokke met 3-1 in die reeks deur die All Blacks afgeslag is nadat hulle die vooraf ook die reeks teen die Wallabies met 0-2 verloor het.

Dit was een van die donkerste tye in Suid-Afrikaanse rugby, wat ingelui is met ʼn neerlaag van 6-8 in 1964 teen die Franse in Springs.

Nóg ses agtereenvolgende neerlae het gevolg: teen Ierland (6-9), Skotland (5-8), twee teen Australië (11-18 en 8-12) en die eerste twee toetswedstryde teen die All Blacks (3-6 en 0-13).

Maar toe volg die derde toets in die modder in Christchurch, waar die Bokke met 19-16 geseëvier het nadat hulle rustyd met 5-16 agter was.

Dit was een van die grootste terugvegpogings nóg, met Brynard wat die vonk agterlangs by Dawie de Villiers, John Gainsford, Mannetjies Roux en Jannie Engelbrecht met sy twee drieë aangesteek het.

Ons het nooit die voorreg gehad om enige van die toetswedstryde op televisie te volg nie, net ʼn paar hoogtepunte ʼn paar dae daarna in die inryteater met darem foto’s die dag ná die toets in die koerante.

Ons moes staatmaak op Awie Labuschagne se radiokommentaar en Roelf Theunissen se koerantberigte om die Springbokke op toer te volg.

Brynard, wat Sondag in die ouderdom van 80 oorlede is, het die toer darem baie draagliker gemaak, veral ná sy bydrae wat die Bokke tot ʼn onwaarskynlike sege van 19-16 aangespoor het.

Die legendariese Nieu-Seelandse joernalis Terry McLean, het Brynard ná die toets as “iemand met ʼn skerp brein, ʼn hart so groot soos ʼn pampoen, die voete van ʼn veergewigbokser en die vaart van ʼn (egte) springbok” beskryf.

Die All Blacks van 1965 was een van die beste spanne nóg en hulle het voortgegaan om die wêreldrekord van 17 agtereenvolgende toetsoorwinnings tot in 1970 op te stel.

Die tragiese is dat Brynard, wat hom in 1964 op Maties in Stellenbosch as dokter bekwaam het, in net sewe toetse tussen 1965 en 1968 gespeel het.

Kom ons draai die horlosie aan tot in 2018, waar die ewe talentvolle Aphiwe Dyantyi na alle waarskynlikheid as Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar aangewys sal word.

Waar dit Brynard, en baie ander Springbokke, jare geneem het om helde te word, kon Dyantyi dit binne ses maande en in 12 toetse regkry om sy naam in goud te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Henk ·

Net jammer dat groot manne soos Jan Serfontein nooit die kans sal kry wat hom toekom nie, danksy Erasmus se dwaasheid en breinfloutes wat hy kry in sy volharding met DeAllende. Boonop sny hy daarmee ook Dyanti se keel af aangesien die bal by DeAllende stop! So hoeveel goue stories sal daar nog oor n ster soos Dyanti geskryf kan word? Kon enige joernalis al ooit n ordentlike verduideliking uit Erasmus kry oor sy volharding met DeAllende?

Paul ·

Waar val dit nou met Aphiwe uit die bus, so in dieselfde asem as een van die grotes van weleer? Is dit om terwille te wees? Hierdie is mos ‘n huldeblyk aan Gert Brynard. Punt.

Henry ·

Kwota joernalistiek???
Nie veel hoop om snippermandjie vry te spring nie.
:-)))

Paul ·

Kyk net hier bo in die artikel wie die agterlyn daardie dag was, en as ek reg het, was die man met die nr 10 op die rug, Jannie Barnard, awesome daardie manne. En wie sal Tiny Naude se modderskop na die pale vergeet?

J de Jager ·

Stem absoluut saam…mnr Kruger val uit die bus met hierdie artikel…wat is nou eintlik jou punt??

Vraagteken kwadraat? ·

Genugtig Pieter, dis moelik om te glo dat jy ‘n artikel kan skryf sonder om ‘n vraagteken te gebruik. Verfrissend!

Kokkie ·

Paul, Henry, J. de Jager en Vraagteken: Ek stem volkome saam met julle kommentare, maar ek stem slegs gedeeltelik saam met Henk. De Allende is ‘n stormrammetjie en beteken niks vir ‘n skeppende agterlyn nie. Punt. Serfontein was ‘n skeppende speler, maar die Bulle het sy natuurlike skeppendheid vernietig. Min van sy balle sou by Dyanti uitgekom het, want hy het selfsugtig en ‘n stormram geword. ‘n Groot jammerte. En natuurlik…..hierdie berig is veronderstel om oor Gertjie Brynard in die besonder, en oor al die ou grotes van die 1965 All Black -toer te gaan. Nie oor Dyanti nie.

Calli Schwab ·

Ek het ‘n program van die 1965 toer na Auz en NZ !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.