Gesinsman CJ gaan sy stewels ophang

CJ Stander in aksie vir die Britse en Ierse Leeus gedurende hul toer na Nieu-Seeland. Foto: Michael Bradley/AFP.

CJ Stander, die Ierse losvoorspeler en voormalige Junior Springbok, het sy rugby-uittrede op sosiale media aangekondig.

Die 30-jarige speler het onlangs sy 50ste wedstryd vir Ierland gespeel, terwyl hy vroeër in sy 150ste kragmeting vir Munster uitgedraf het.

“Professionele sportmanne en -vroue hoor gereeld dat hulle sal weet wanneer die tyd ryp is om jou stewels weg te bêre. Die tyd het nou vir my aangebreek,” het Stander geskryf.

Hy sal tot 27 Junie vir sy geliefde Munster beskikbaar wees en kan tot die einde van die seisoen diens vir Ierland doen.

Volgens Stander kon hy gedurende die tyd van afsondering sy lewe in oënskou neem. Sy geloof, gesin en rugby was bo aan die lysie.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat my toewyding aan rugby onregverdig teenoor my familie is – in Limerick en in Suid-Afrika. Hulle het langer as 25 jaar aansienlike opofferings gemaak om toe te sien dat ek my droom kan uitleef.”

Stander het ’n paar jaar gelede sy tasse vir Ierland gepak nadat hy 52 wedstryde vir die Blou Bulle gespeel het.

Hy het amper onmiddellik sy stempel in sy aangenome land afgedruk en het in 2020 vir die derde keer in ses jaar met die gesogte toekenning as Munster se speler van die jaar weggestap.

“Jy kan in enige situasie op CJ reken en hy het onder meer die bal 120 keer in ses Kampioenskapwedstryde gedra. Sy vertonings is in elke wedstryd van hoogstaande gehalte en sy werksetiek het geen gelyke op provinsiale en internasionale vlak nie,” het Munster op sy webwerf geskryf.

Volgens Stander is hy nie hartseer oor sy besluit nie – hy kan immers eendag na ’n baie suksesvolle rugbyloopbaan terugkyk.

“Dit is beter en lekkerder as enigiets wat ek self kon uitdink en ek sal niks wil verander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

“’n profeet word nie in sy eie land geëer nie” en so ook sommige rugbyspelers soos Stander.
Welgedaan ‘n loopbaan waarop jy met trots kan terugkyk.

MakersMark ·

Fantastiese speler groot loopbaan gehad. Vermeulen is ‘n beter agsteman maar Stander sou ‘n baie beter 6 gewees het as die huidige draer van daai trui in die bokspan.

OW ·

Hy is ‘n goeie en harde speler maar ek dink hy moes geskors gewees het met sy ongeoorloofde spel teen Patric Lambie tydens die Springbokke en Ierland se toets so paar jaar gelede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.