Geskiedenis wag op Saterdag se wenspan

Griekwas het met die Blou Bulle op Loftus Versfeld in die halfeindstryd klaargespeel. Foto: Twitter

In Saterdag se Curriebeker-eindstryd in Kimberley sal een span wil hê dat die geskiedenis van 1970 homself herhaal, terwyl die ander span sal hoop vir ’n splinternuwe geskiedboek-inskrywing.

Hoe dit ook al sy, Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers kan hul vere regskud vir ’n opwindende kragmeting wanneer twee van die land se kleiner unies – die Pumas en Griekwas – sake om Curriebeker-glorie uitspook.

“Griekwas praat al vir soveel jare daarvan om weer die Curriebeker te wen en die sukses van die 1970-span te herhaal. Ons het in 2019 in die halfeindstryd gespeel, maar ek is ongelooflik trots op wat die ouens vanjaar vermag het,” het Pieter Bergh (Griekwas-afrigter) gesê.

Vir die eindstryd sal Sango Xamlashe die span vanuit sy posisie as buitesenter aanvoer, terwyl Zander du Plessis en Stefan Ungerer die skakelpaar is.

Benewens die feit dat Griekwas op hul tuisveld in aksie is, loop hul selfvertrouebeker ook oor nadat hulle reeds twee keer vanjaar met die Laevelders afgereken het: eers 41–20 in Kimberley en toe 45–44 in Nelspruit.

Die Pumas  speel in hul eerste Curriebeker-eindstryd. (Foto: Twitter)

Tog sal die Pumas hulself goed van hul taak in hul eerste Curriebeker-eindstryd wil kwyt. En as ’n sege uitsluitlik van Jimmy Stonehouse se trots op sy span afhang, is die beker reeds op pad na die Laeveld.

“Ons het in ’n stadium amper dinge deur ons vingers laat glip, maar die emosies ná die Cheetahs-halfeindstryd was doodeenvoudig onbeskryflik. Ek dink ons verdien dit om in die eindstryd te speel en ons voel baie gelukkig,” het die Pumas-afrigter gesê.

“Daar is ’n gesonde wedywering tussen ons en Griekwas en dít is een van die beste dinge wat met rugby in Suid-Afrika kon gebeur het.”

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Griekwas: George Whitehead (heelagter), Munier Hartzenberg (regtervleuel), Sango Xamlashe (kaptein en buitesenter), Rynhardt Jonker (binnesenter), Luther Obi (linkervleuel), Zander du Plessis (losskakel), Stefan Ungerer (skrumskakel), Siba Qoma (agtsteman), Hanru Sirgel (flank), Werner Gouws (flank), Derik Pretorius (slot), Cameron Lindsay (slot), Janu Botha (stut), Janco Uys (haker) en Kudzwai Dube (stut). Plaasvervangers: Simon Westraadt, Eddie Davids, Andries Schutte, Johan Retief, Michael Amiras, Johan Mulder, Fiela Boshoff, Chris Hollis, Gustav du Rand, Luyolo Dapula en Raegan Oranje.

Pumas: Devon Williams (heelagter), Tapiwa Mafura (regtervleuel), Sebastian de Klerk (buitesenter), Eddie Fouché (binnesenter), Jade Stighling (linkervleuel), Tinus de Beer (losskakel), Chriswill September (skrumskakel), André Fouché (agtsteman), Willie Engelbrecht (kaptein en flank), Daniel Maartens (flank), Shane Kirkwood (slot), Deon Slabbert (slot), IG Prinsloo (stut), Eduan Swart (haker) en Corné Fourie (stut). Plaasvervangers: Llewellyn Classen, Dewald Maritz, Simon Raw, Kwanda Dimaza, Francois Kleinhans, Giovan Snyman, Ali Mgijama en Alwayno Visagie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karlahari ·

Oom Gert nie so Smal hoort in die museum.
Op Nuweland ag jammer, Skaapstad Stadion

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.