Gesogte studentetrofee bly in Pretoria

Foto: Twitter via Varsity Cup.

Op die vooraand van die Varsitybeker-eindstryd op Stellenbosch het Tukkies ’n paar eerstes teen Maties gejag.

Die Pretoria-studente was op soek na hul eerste oorwinning in nege jaar op die Danie Craven-stadion, terwyl hulle ook die eerste span in die geskiedenis van die toernooi wou word om met die uiteindelike louere weg te stap nadat hulle die groepfase in die vierde plek afgesluit het.

En ná 80 minute van aksiebelaaide spel het die Pretorianers nie net die Kapenaars met 29–23 (danksy Bernard van der Linde se wendrie in die 78ste minuut) geklop nie, maar dit was ook hul tweede oorwinning in die reeks se laaste twee eindstryde.

O ja, dan was dit ook die vyfde keer dat ’n Pretorianer die silwerware omhoog gehou het!

Maties was eintlik in beheer van die wedstryd en danksy Nevaldo Fleurs se betroubare skopvoet het dit gelyk of hulle die kragmeting op ’n amperse drafstap sou wen.

Maar ’n wedstryd is nie verby tot daardie spreekwoordelike Engelse dame die mikrofoon vasgryp en begin sing nie.

Om die een of ander duistere rede het Maties in die doodsnikke van die wedstryd besluit om balbesit weg te skop en Van der Linde het die daaropvolgende Tukkie-teenaanval met sy drie afgerond.

Daar was sprake dat ’n voorafgaande aangee vorentoe was, maar Egon Seconds (televisieskeidsregter) kon nie veel fout vind nie.

Die Universiteit van Pretoria het ook die Young Guns-eindstryd gewen toe dié span die NWU Arende met 22–14 geklop het.

Daar staan tans baie bekers in Pretoria!

  • Puntemakers:

Tukkies: Drieë: Bernard van der Linde (2 x 7) en Kabelo Mokoena (2). Doelskop: Walter Visser. Strafskop: Stefan Coetzee.

Maties: Drie: Mike Mavovana. Strafskoppe: Nevaldo Fleurs (6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Fantastiese tweede helfte deur Tuks. Voorspelers definetief opgedaag later in die wedstryd. En natuurlik daai laaste drie……

Witbaard ·

Kannie glo dat die Maties die balbesit weggeskop het nie. Daar kos dit hulle die game. Hulle moes net 3 minute balbesit behou het, dan was hulle die champs

SjN ·

Baie mooi Tuks, knap gedaan om die gunstelinge n punt te wys. Geluk julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.