Gespanne atmosfeer voor internasionale rugbywedstryd in George

Hennie Baartman (middel), president van SWD Rugby, ontvang die griefskrif, links staan Dawid Kamfer, Wes-Kaapse Icosa-leier en regs is Virgille Gericke PBI-leier (Foto: Eugene Gunning)

ʼn Gespanne atmosfeer het Saterdag voor die wedstryd tussen die Southern Kings en Munster van Ierland by Outeniquapark geheers. Honderde mense, hoofsaaklik ondersteuners van twee politieke partye, Icosa en die Plaaslik Besorgde Inwoners (PBI), het by die hoofingang van die stadion deelgeneem aan ʼn protesoptog oor ongelykhede in Suid-Afrikaanse rugby.

In een stadium, toe ʼn bus met Munster-ondersteuners opdaag, het van die protesgangers die pad voor die stadion vlugtig met ʼn reusebanier versper. Danksy die vinnige optrede van die polisie en die leierskap van Icosa en die PBI, is die situasie ontlont.

Later het Hennie Baartman, president van SWD Rugby, ook ʼn groot rol gespeel om gemoedere te kalmeer.

Protesgangers het reeds van kort voor 17:00 by die stadion opgedaag. Toestemming is vooraf vir die optog gegee.  Harde woorde het geval tussen die organiseerders van die optog, mense wat betrokke was by die reëlings van die wedstryd en die polisie, oor waar die protesgangers mag staan.

Terwyl hondere toeskouers die stadion binnegestroom het, is hulle by die hekke met plakkate begroet. Dit was duidelik ook op ʼn internasionale gehoor gerig, want van die plakkate was in Afrikaans en Engels. Daarop het onder meer gestaan: “Ons soek ons demokratiese regte. Niemand word bo ander verkies”, “Make us proud. Transform SA Rugby”, en Alister we stand by you. We lost faith in Saru”.

Dawid Kamfer, Icosa-leier en Virgill Gericke, PBI-leier het aanwesiges aangemoedig om saam te gesels.

Kamfer het met ʼn mikrofoon in die hand geskreeu dat Alister Coetzee en Pieter de Villiers by SA Rugby weggejaag is.  “Ons is mos nie goed genoeg om Springbokrugby af te rig nie.”

Polisie jaag protesgangers uit die pad voor Outeniqua Park sodat ‘n bus met Munster-ondersteuenrs kan deurry (Foto: Eugene Gunning)

Van die protesgangers het onder meer geskreeu: “Moenie optree soos koloniale polisie nie” en “Ons is moeg vir hoenderpote. Ons wil ook hoender eet.”

Van Munster se ondersteuners wat al die pad van Ierland gekom het, het net geglimlag.

Ná 17:00 het Baartman opgedaag en ʼn griefskrif is aan hom oorhandig.

“Ons het genoeg gehad,” Kamfer het gesê.  “Dit is jammer dat ons dié geleentheid moet gebruik om dit te oorhandig. Dit is die enigste geleentheid om vir die wêreld te wys dat ons nie gelukkig is met rugby nie. Ons is baie bly dat die Wêreldbekerugbytoernooi (vir 2023) nie aan Suid-Afrika toegeken is nie.”

Volgens Kamfer word dit gedoen in belang van rugby.

Gerick het gevra dat Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, geskors word. Hy het gewys op die belangrikheid van sportontwikkeling en spesifiek rugby. Dit kan help om kinders van die strate af te kry en ook met die bekamping van misdaad, het hy gesê.

Die protesgangers het SA Rugby 7 dae tyd gegee om op die griefskrif te reageer. Daarin word onder meer versoek dat Roux onmiddellik afgedank word  en dat 60% van spelers in alle professionele spanne voortaan nie wit mag wees nie.

Die polisie verwilder van die protesgangers wat die straat voor Outeniqua Park in George vlugtig versper het (Foto: Eugene Gunning)

Baartman het aanwesiges bedank vir die vreedsame wyse waarop hulle die aangeleenheid hanteer het. Hy het onderneem om terugvoering te gee. Volgens hom is die protesgangers se optrede nie ʼn las of ʼn verleentheid nie. “Mense moet ʼn geleentheid kry om hul boodskap oor te dra.”

Baartman het daarna aan Maroela Media gesê dit is mense se reg om griewe uit te spel. Hy het bygevoeg dat dit ook goed is vir die streek dat ʼn internasionale wedstryd in dié gebied gespeel word.

Kort voor die aanvang van die wedstryd was daar uiteindelik vrede in die lug en van die protesgangers en Munster-ondersteuners het gemoedelik gesels en selfs saam vir foto’s geposeer.

*Munster het die wedstryd 39-22 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henk ·

Ek lag myself nou dood vir daai ou se plaklaat. My maat, jy is honderpersent reg, P de V en AC is nie goed genoeg om die Bokke se afrigters te wees nie.

TDW ·

60% mag nie wit wees nie? Al is hulle die beste speler? Nou mag hulle nie speel nie, want hulle is te wit?
Australië sal sekerlik belangstel in goeie wit rugby spelers!

Gustav ·

Ja hulle is so belaglik, want vir hulle gaan dit nie om ‘n wedstryde te wen nie, maar as al die spelers swart spelers is, sal dit hulle tevrede stel.. baie stupid, waarvoor speel mens dan

Veritas ·

SA rugby is in sy peetjie en dié spul wil dit nog verder oor die afgrond help. Hoekom, dink hulle, speel ons beste jong wit spelers in Europa. Dit is reeds die direkte gevolg van die kwotastelsel wat hulle so graag wil hê. Talentvolle wit seuns praat nie meer daaroor om vir die bokke te speel nie maar hoeveel hulle in Eurpa gaan verdien.

Anoniem ·

Dit gaan vir hierdie mense heel duidelik nie oor wen nie maar dat daar net moet spelers van kleur in die span moet wees (al is hulle heel duidelik nie die beste spelers nie. (ook maar lekker stupid – om nou vir Ouboet aan te haal.

Sanksies ·

JAnee Munster lag vir julle .die wereld lag vir julle . en hulle het julle nou al ‘n pak slae gegee, as julle minder as 60% wit spelers het is die volgende telling 39-0. Lets face it .. alles gaan agteruit . springbokrugby is ‘n JOKE > so gaan eet julle hoenderpote .. Ek wens alle lande wil VERBIED word om SA te betree .. GEEN internasionale sport meer in SA Nie .. dit is mos wat tydens apartheid gebeur het . wel DOEN DIT WEER!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.