‘Geweldsrugby’ verkort loopbane; jeugrisiko verg aandag

Beserings - meer en ernstiger  (Foto: becuo.com)

Beserings – meer en ernstiger (Foto: becuo.com)

`n Franse koerant glo rugbyspelers se loopbane sal al hoe korter word en `n Engelse mediese spesialis vra dat die risiko’s in jeugrugby dringend bepaal moet word.

Dit is van die jongste verwikkelinge rondom die toenemende kommer ten opsigte van die hoë spelintensiteit van hedendaagse rugby en die uitwerking wat dit op spelers se liggame en lewensgehalte het.

Onder die opskrif “Rugby of slagting?” vra die Franse sportkoerant L’Epique die vraag of rugby nie sy wese, beeld én spelers vernietig met die uiterste verpligtinge, meer skokke en ernstige beserings wat die “geweldadiger” spel meebring nie.

In die ander geval berig Reuters dat een van Engeland se voorste pediatriese neurosnydokters, Michael Carter, in die British Medical Journal  (BJM) redeneer dat rugby talle veiligheidsmaatreëls “systap” wat daarop gemik is om die welsyn van leerlinge te verseker. Hy het `n oproep op skole, klubs, mediese instellings en toesighoudende owerhede gedoen om saam te werk om die risiko’s van jeugrugby te ondersoek.

Hy meen beserings kan vermy word deur kinders die regte vaardighede aan te leer, maar dit gebeur nie altyd nie.

Carter verkwalik skole, afrigters en ouers wat bydra tot `n “stamgebonde, gladiatorale kultuur wat oordrewe aggressie en die onderdrukking van beseringsaanmelding aankweek en beseerde spelers aanmoedig om op die veld te bly”.

Hy glo gewig en ouderdom moet by spankeuse in ag geneem word.

‘Spel vir monsters’

Wat L’Equipe se omvattende en lywige ondersoek betref, word gemeld dat spelers op die oog af die toenemende beserings ligtelik aflag, maar dat daar onderlangs `n wesenlike vrees daarvoor bestaan en dat spelers heimlik glo dat dit net `n kwessie van tyd is voor die geweld tot `n noodlottige besering ly.

Spelers word groter en vinniger en die intensiteit van die spel en heftigheid van impak neem daarmee saam toe. Die aard van die spel het wesenlik verander sedert die oorskakeling na die beroepsbedeling. Daarmee saam het nuwe euwels kop uitgesteek.

“Rugby was `n sport vir almal, nou is dit `n sport vir monsters,” het `n Britse sportsnydokter, John Fairclough, aan L’Equipe gesê terwyl hy met `n gebalde vuis op die tafel slaan. “Dit is onafwendbaar dat die getal beserings sal toeneem. Die menslike liggaam is nie geskep om sulke slae te verduur nie.”

Die blad berig dat al hoe meer spelers jonk uittree omdat dokters niks meer kan doen om hulle fiks te kry nie. Topspelers verwag dit sal nie lank duur voor spelers van ouer as dertig uit rugby verdwyn nie.

Verstommend

L’Equipe vind `n “verstommende” vergelyking tussen die Wêreldbeker-All Blacks van 1987 en 2011. Die gemidddelde lengte van die spelers het elke twaalf jaar met `n sentimeter toegeneem en die gewig met 13 kg oor die 24 jaar. Die toename is die opvallendste by die driekwarte. Dié van 2011 was gemiddeld sewe sentimeter langer en 20.5 kg swaarder as 2011 s’n. Die huidige All Blacksenter Ma’a Nonu weeg, byvoorbeeld, 108 kg, meer as enige van die Nieu-Seelandse voorpelers wat die Wêreldbeker in 1987 gewen het.

Die gewese Franse toetslosskakel Julien Peyrelongue sê sedert die Springbokke die Wêreldbeker in 2007  gewen het, het die uitermate klem op verdediging rugby tot die vlak van “league” laat verval. Die aantal aangeë, maar veral duikslae het tot oor die 200 per wedstryd gestyg. Oor die 130 losskrums word in `n wedstryd gevorm. Die groter getal skokke het ernstige gevolge vir spelers se gesondheid.

Die biokenetikus Thibault Giroud sê die toestand kwel hulle. Dit plaas geweldige druk op fiksheidsafrigters om spelers week ná week fiks te hou en hy voorsien dat die seisoen die een of ander tyd verkort sal moet word.

Amerikaanse voetbal speel `n maksimum van 20 wedstryde per seisoen. Die res van die jaar word benut om te herstel en voor te berei.

Nog `n fiksheidskenner, Benoît Hennart, sê `n blaaskans van ses weke per jaar, vakansie ingesluit, is ondenkbaar. Dit moet minstens agt weke wees en verlof uitsluit. Andersins kan spelers maar vergeet om die hoedanighede te ontwikkel om beserings te voorkom deur swakplekke te brei.

 

`n Studie onder Skotse spelers twee jaar voor die inwerkingtreding van die beroepsbedeling(1993) en onder beroepspelers drie jaar daarna (1998) het `n bykanse verdubbeling in beserings getoon. Dit is in 2000 in die BJM geplaas en word deur L’Equipe aangehaal.

Tydens die Wêreldbekertoernooie van 2003, 2007 en 2011 was daar elkers drie keer soveel beserings as in die toernooi van 1995. Dit kan nie ontken word dat die beroepsera rugby `n gevaarliker sport gemaak het nie.

In die Britse en Franse topreekse is harsingskudding verreweg die besering wat die meeste voorkom. Franse dokters het aangedui dat `n beroepspeler tussen 2008 en 2013 `n agt keer groter kans het om `n skouerontwrigting op te doen as wat die geval met `n amateurspeler is.

Die Skotse Rugbyunie (SRU) se dokter, James Robson, sê die aard van beserings het heeltemal verander. Toe hy begin praktiseer het, was dit veral spier- en seningbeserings, nou is dit skouers wat ontwrig word en kruisligamente wat skeur. Dit weerspiëel gewis die feit dat die kontak geweldadiger raak.

‘Los plaasvervangers’

Die grootbaas van die Engelse Rugbyspelersvereniging, Damian Hopley, wonder of daar nie ingrypend na van die reëls gekyk moet word nie. Hy wys op die talle beserings wat in die laaste tien tot 15 minute voorkom. In die 60ste minuut verskyn vars spelers op die veld om kragte te meet met ander wat uitgeput is. Dis gewis geen goeie ding nie, veral wat die vaste vyf betref, en hy staan `n vorige bedeling voor sonder plaasvervangers of hoogstens met vervanging in die geval van beserings.

Daar is ook ander wat na aanleiding van die ooreenkoms, na hul mening, met “league” die oplossing soek in die vermindering van die getal spelers tot 14 of selfs ook 13.

L’Equipe sê die sterkste gevaarseine vir die toekoms van rugby kom van beroemde spelers soos Frédéric Michalak, Paul Ackford en ander wat aandui dat hulle nie geneë is om hul seuns beroepsrugby te laat speel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.