Gewese Blou Bul teken 24 in Yanks se liga aan

Riekert Hattingh (Foto: Ric Kruszynski/ISN)

ʼn Gewese Blou Bulspeler het Saterdag 24 punte vir Columbus (Ohio) in die Amerikaanse Middewesteliga aangeteken.

Sy span het Kansas City Blues met 64-24 kafgedraf, en loop tans voor in die liga.

Die agsteman Riekert Hattingh het twee drieë gedruk en sewe doelskoppe deur die pale gejaag.

Hy het verlede jaar nog vir die Blou Bulle in die opstelronde van die Curriebekerreeks gespeel voor hy by die Ohio Aviators in die Amerikaanse beroepsliga aangesluit het.

Die buitesenter Johann Swanepoel het ʼn drie vir Kansas gedruk.

Hy was 13 toe hy saam met sy ouers van Alldays in Limpopo af na Amerika geëmigreer het.

♦ In nog ʼn kragmeting in die reeks het Gareth Lourens die wendrie vir Palmer College Dragons teen Chicago Griffons in die 67ste minuut van hul wedstryd gedruk.

Palmer het die wedstryd met 31-29 gewen.

Lourens kom van Durban af en het vir Hillcrest Villagers gespeel.

Suidelike Liga

♦ Johannes Gericke (haker) het drie doelskoppe behaal in die onoorwonne Life Running Eagles se sege van 43-12 oor Atlanta Renegades in die Afdeling Carolinas & Georgia van die Suidelike Liga.

Life het boaan die afdeling geëindig.

Gericke is ʼn gewese SA Skolespeler, wat die Maties van 2011 tot 2014 in die reeks om die Varsitybeker verteenwoordig het.

♦ In die Florida-afdeling van die liga het die Suid-Afrikaner Hein Erasmus (agsteman en kaptein) ʼn drie vir die dusver onoorwonne voorloper Miami Tridents teen Orlando gedruk.

Tridents het met 60-24 gewen.

Erasmus is as die klub se waardevolste speler aangewys toe Trident die Florida-afdeling verlede jaar gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacobie Swanepoel ·

Nou ja toe. Hier sit ek in Kansas en lees van my seun, Johann in Afrikaans. Dankie julle!!

Laura Murray ·

En hier sit ek in New Zealand en lees van jou seun in Afrikaans!
Dankie Maroelamedia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.