Gewese Bok-hulpafrigter gaan Amerika brei

ʼn Gewese hulpafrigter van die Springbokke is aangestel as die hoofafrigter van die Amerikaanse nasionale span in die plek van John Mitchell, wat nou die Blou Bulle se rugbydirekteur is.

Dan Payne, die hoof- uitvoerende beampte van VSA Rugby, sê hulle is in hul noppies om die diens van Gary Gold te bekom, “wat met sy rugbygeskiedenis beïndruk”.

Sy aanstelling sluit die Wêreldbekertoernooi van 2019 in.

Gold was van 2008 tot 2011 een van Peter de Villiers se hulpafrigters by die Springbokspan toe die Bokke 30 uit 48 toetse (62.5%) gewen het.

Hulle het die Drienasiesreeks in 2009 gewen, die All Blacks drie keer agtereenvolgens geklop, en is as die internasionale span van die jaar aangewys.

Gold verlaat die Engelse Premierligaklub Worcester Warrior, wat sy afgelope vyf wedstryde verloor het, en heel onder op die punteleer staan.

Voor dit was hy die rugbydirekteur en die hoofafrigter van die Sharks, wat ook nie juis die wêreld aan die brand gespeel het nie.

Die 50-jarige Gold was onder meer London Irish se voorspelerafrigter onder Brendan Venter, en later hoofafrigter van die span; en voorspeler- en later hoofafrigter van die Westelike Provinsie, voor sy aanstelling by die Bokke.

Sedertdien was hy onder meer ook die hoofafrigter van Newcastle, en die rugbydirekteur van Bath in die Engelse Premierliga.

Mitchell het die Arende tot nuwe hoogtes gevoer, maar die Yanks was nie daamee gediend dat hy hulle “uit Pietermaritzburg” afrig nie.

♦ Intussen is bekend gemaak dat ’n ander Nieu-Seelander met Suid-Afrikaanse bande, die gewese Blitsbok John Plumtree, Japan in sy voorbereiding vir die jaareindtoetse sal bystaan.

Hy is deesdae ’n hulpafrigter van die Hurricanes, en die Sharks het twee keer die Curriebeker gewen toe hy hulle van 2008 tot 2012 afgerig het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.