Gewese Bok-hulpbreier los Iere skielik

Les Kiss (Foto: Ulster Rugby)

ʼn Gewese hulpafrigter van die Springbokke het Woensdag skielik uit sy huidige pos in Ierland bedank.

Les Kiss, wat in 2001-2002 die verdedigingsafrigter van die Bokke was, het met onmiddellike inwerkingtreding uit sy pos as rugbydirekteur van Ulster bedank, luidens ʼn aankondiging op dié Ierse provinsie se webwerf.

Dit geskied met “wedersydse instemming”.

Onder die Australiër Kiss se hand was die Bokke se verdediging die beste in die destydse Drienasiesreeks teen die All Blacks en die Wallabies.

Kiss het dié reputasie in Ierland voortgesit, waar hy van 2008 tot 2015 die nasionale span se verdedigingsafrigter was.

Die Ierse Rugbyunie (IRFU) bedank Kiss in ʼn verklaring wat Woensdag in Belfast uitgereik is vir die bydrae wat hy tot die herlewing van Ierse rugby gelewer het.

“Les het ʼn reuserol in die sukses van Ierse rugby op nasionale en provinsiale vlak gespeel sedert hy in 2008 by die IRFU aangesluit het,” lui die verklaring onder meer, met verwysing na die drie Iere se Sesnasietitels in sewe jaar, insluitende ʼn geskiedkundige Grand Slam in 2009.

Hy was die land se tussentydse hoofafrigter tydens die 2013-toer na Noord-Amerika, voordat Joe Schmidt oorgeneem en Kiss sy taak as hulpafrigter hervat het.

Ironies genoeg is dit juis Ulster se swak verdediging in die jongste tyd wat Kiss toenemend onder druk geplaas het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.