Gewese Bulls-makkers raak in Praag slaags

Twee gewese lede van die Bulls se afrigtingspan raak eersdaags in Praag slaags wanneer die Tsjeggiese nasionale span te staan kom teen ʼn uitnodigingspan wat grootliks uit Suid-Afrikaanse klubspelers saamgestel is.

Phil Pretorius, die Bulls se hoofafrigter in 2000, brei deesdae die Tsjeggiese Republiek se nasionale span en word deur Hein Kriek, ʼn gewese hulpafrigter van die Pumas, bygestaan.

Johann Kluyts, wat Pretorius destyds as tegniese adviseur gehelp het, rig die uitnodigingspan af. Die voormalige heelagter van die Leeus, Kobus Engelbrecht, is die hulpafrigter.

Kluyts, terloops, het die Oostelike Provinsie in die jare negentig afgerig – met die huidige Springbokafrigter, Allister Coetzee, as sy assistent.

♦  Die uitnodigingspan, die SupaBaabaas, het sy ontstaan deur die inisiatief van André Bester in die jaarlikse Raikes-gedenkwedstryd gehad waar die Baabaas die afgelope vyf jaar teen Wits Universiteit gespeel het.

Bester vergesel die span na die Tsjeggiese Republiek as die beskermheer. Die span is gekies uit spelers van die Carltonliga, die Pirates Grootuitdaagbeker, en uit die Valke, Pumas, en selfs die Limpopo-subunie, se ligas.

♦  Die Tsjeggiese toer is die inisiatief van die internasionale rugbypromotor Willem Strauss, en sluit benewens die wedstryd teen die Tsjeggiese nasionale span (21 Oktober) ook een teen die land se klubkampioen in (17 Oktober). Laasgenoemde span bevat glo verskeie Suid-Afrikaners.

Die span sluit onder meer in die stut Bees Roux, ʼn speler in wat Superrugby gespeel het, en ʼn paar Curriebekerspelers soos Marnus Schoeman, Hanco Venter en Fred Eksteen. Schoeman het ook vir die Bulls ʼn Superwedstryd gespeel.

Bones Robbertse, ʼn Tukkie-slot, voer die span aan.

Die wedstryd teen die nasionale span dien as voorbereiding vir die Tsjegge se Wêreldbeker-uitdunwedstryd die daaropvolgende naweek teen Pole, wat op sý beurt deur die Suid-Afrikaner Blikkies Groenewald gebrei word.

Strauss glo Oos-Europa is ʼn groeipunt vir rugby en hy is redelik bedrywig in dié geweste.

Georgië gaan van krag tot krag. Strauss het in 2003 die Blou Bulle se toer daarheen gereël.

Rusland, wat al ʼn paar keer op Strauss se inisiatief Suid-Afrika besoek het, groei ook as ʼn rugbyland. Strauss was verantwoordelik dat die Blou Bulle-amateurspan in 2004 soontoe is.

Pole het die afgelope twee jaar Pretoria op sy inisiatief besoek, en teen ʼn aantal Carltonspanne gespeel. Hy het dié land ook gehelp om Groenewald as afrigter te werf.

Strauss werk nou saam met die Tsjeggiese Republiek en Pretorius. Buiten die uitnodigingspan se toer, beplan hy aanstaande jaar in April ʼn besoek vir die Tsjeggiese nasionale span aan Uganda.

Die Tsjeggiese sewesspan neem ook vanjaar aan die Safland-sewestoernooi in Swakopmund deel.

Die toerspan, wat saterdagaand na Praag vertrek, is:
Heelagters: Sheldon Williamson (Pirates), Lux Ntsepe (Wits).
Vleuels: Sweef Potgieter (Brakpan), Abri Reynolds (Tukkies), Godfrey Ramaboea (Universiteit van Johannesburg).
Senters: Donovan Giesling, Wade Worthington (albei Pirates).
Losskakel: Juan Vos (Pietersburg Noordelikes).
Skrumskakel: Hanco Venter (Tukkies), Stokkies du Plessis.
Agsteman: Luga van Biljon (Naka Bulle).
Flanke: Fred Eksteen (Tukkies), Etienne Oosthuizen (Tukkies), Marnus Schoeman (Pumas), Wikus van der Berg (Brakpan).
Slotte: Bones Robbertse (Tukkies, kaptein), Pieter Griesel (Tukkies).
Vaskopstutte: Bees Roux (Quins-Bobbies-rugby), Armandt Jordaan (Brakpan).
Haker: Theuns Reynolds (Tukkies), Ian Oosthuizen (Brakpan).
Loskopstut: JP Olivier (Pirates).

Toerbestuur –

Johan  Kluyts (afrigter)
Kobus Engelbrecht (hulpafrigter)
Richard Janse van Rensburg (spanbestuurder)
Andr Bester (beskermheerAnnemie Bester (medieskakeling)
Willem Strauss (toerpromotor)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.